Jong mans sterf in Pretoria
2006-09-14
’n JONG man van die Paarl, Michael Adams (21), en sy neef, Timol (Zaid) Ricketts (22), is Donderdagaand op slag dood in ’n gru-ongeluk in Pretoria.
Nog twee van die insittendes is oorlede - Timol se vriendin Veronique Pazdera (16), en Martin Els (19).
Die vyfde insittende, Jolandi Maree (17), is in ’n kritieke maar stabiele toestand in die Muelmed Medi-Clinic.
Michael het in 2002 gematrikuleer aan Klein Nederburg Sekondêr en daarna by Boland Kollege Worcester gestudeer waar hy ’n top student was in rekenaartegnologie.
Hy het daarna gewerk by Incredible Connection in die Paarl Mall, maar is verlede jaar oorgeplaas na Umhlanga Rocks in Kwazulu- Natal.
Hy en sy vriendin, oud-Paarliet Bernecia Hendricks, het in Tongaat gewoon. Hulle het 'n dogter van tien maande, Mikhaila.
Michael het onlangs vir ’n maand by sy ouers, Clarissa en Brian Adams, in die Paarl gekuier en is op 24 Augustus terug huis toe, maar kort daarna is hy na Pretoria om by sy oom, oud-Paarliet Patrick Ricketts, te kuier. Dié se seun Timol, ’n jeugfasiliteerder op Robbeneiland, het terselfdertyd daar gekuier.
Timol is Vrydag in Laudium begrawe. Hy laat sy pa Patrick, ma Fareida en broer Aslam na. Patrick was vroeër jare ’n bekende anti-apartheidsaktivis.
’n Gedenkdiens word Saterdag in die Paarl gehou vir Michael. Dit is om 10:00 by sy ouerhuis te Matthewstraat 36, Mountain View, en 11:00 uit die Holy Trinity Kerk. ’n Private verassing sal later gehou word.
Michael word oorleef deur sy ouers, suster René, vriendin Bernecia en baba Mikhaila.
More
News
|