Skoenmaker (91) steeds by sy lees
2006-09-14
Susan Botha
OP 91 is die meeste mense tevrede as hulle sonder pyn opstaan en ’n stukkie kos het om te eet.
Op 91 staan Martiens Wells nog elke oggend douvoordag op en teen 07:00 staan sy dagtaak gereed: hy maak skoene reg.
Ons sit op die stukkie stoep van sy huis op die hoek van Evans- en Klein Drakensteinweg. Oom Martiens sit op een van sy kleinode: ’n stoel wat sy oom nog met ’n knipmes uit ’n stuk haakdoring gesny het.
So tussen sy gereedskap en die stukkende skoene kyk ’n mens deur die venster uit op Die Stoepe. Kort-kort groet iemand wat verbystap.
“Baie mense wil mos nie meer vandag groet nie, al kos dit hulle nie ’n blou sent nie.
“My pa het altyd gesê jy kan maar met iemand gesels, jy het nie nodig om onder sy kombers te loop slaap nie.”
Dan is ons terug by die skoene: “Lek my, as ek nie met my naald en els alles kan doen wat die manne met die masjinerie doen nie,” vertel hy oor die skoenwerkery.
Dié vaardigheid kom van kleintyd af.
“My pa was ’n veeboer by Upington en ek was veewagter.”
In die wintermaande is daar bees geslag en dan is die kop se vel gebruik vir skoene.
Deur die jare het hy dié kuns verfyn en vandag is daar geen skoen waarvoor hy nie kans sien nie.
Van dansskoene tot stewels staan in rye en wag vir sy vaardige vingers. En vir ’n noodgeval maak hy ook altyd tyd.
“Net gisteraand het hier nog ’n man aangekom met sy kind se skoolskoene, want die kind moet môre skool toe,” vertel hy.
Agtuur die aand kon hulle die heel skoene kom afhaal.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was hy soldaat: “Ek was in die kompanjie wat paaie en brûe gebou en reggemaak het.
“Saterdae het die manne gesit en drink en dobbel - dan werk ek skoene. Baie keer sommer by ’n lantern se lig.”
Op 10 Oktober 1946 sluit oom Martiens op Laingsburg by die Poskantoor aan.
“Op Upington was daar nie werk as jy nie met die grond te doene het nie,” vertel hy.
Van Mosselbaai en Oudtshoorn tot by Calvinia en O’Kiep het hy gewerk.
“Ons het nog met ons twee hande gewerk: gate gegrawe en pale geplant.”
In die sestigerjare het hy besluit die rondtrekkery is nie meer vir hom nie en hy het ’n vaste aanstelling op Laingsburg en later in die Paarl gekry.
Hier het hy afgetree en hier is sy vrou oorlede. Vandag woon hy nog in sy eie huis, met sy dogter, Lydia Francis, en haar drie kinders.
“God is goed, ons moet net sy belofte aanvaar,” gee hy raad.
“Ek was ook maar rou gewees, maar ek het gesien ek kan nie so aangaan nie,” dink hy terug.
Dan met ’n glimlaggie: “My ou vrou was ’n baie sagte mens.”
Raad vir die jongmense het hy ook: “Dit is ’n stryd, die lewe vandag is gevaarlik.
“Maar hulle maak self die lewe swaar, want waar ‘nee’ gesê moet word, word ‘ja’ gesê.
“Jou ouers se opvoeding is belangrik, maak nie saak wie en wat jou pa en ma is nie. Hou dit vir jou, moet dit nie onder jou voete trap nie.
Oom Martiens is een van agt kinders, van wie drie broers en ’n suster nog leef.
Hy en sy vrou het sewe kinders gehad, ses lewe nog: Lydia woon by hom, dan is daar Max in die huis langsaan, Catherine in Goethamstraat, Andries in New Orleans, Margaret op Touwsrivier en Cornelia op Upington.
Daar is ook 25 kleinkinders en 17 agterkleinkinders om te help jonk van gees te bly.
Met sy gesondheid gaan dit nog baie goed. “Ek het geen kwale nie, ek stap nog baie, ek het geen kwale nie. My oë is ook nog goed, dit is net die ore wat so ’n bietjie begin lol.”
Hy oorweeg dit nou om dalk maar ’n gehoorstelletjie aan te skaf. Oom Martiens is ’n lid van die Bethel Cong Kerk en sommer nog baie bedrywig in sy wyk.
“Dan dowwel ek nog self in my tuintjie ook,” beduie hy na die lappie grond voor die stoep.
Dit is nie al nie: in Evansstraat het hy en buurman Tommy Goliath vier bome geplant.
Gereeld dra hy water met ’n emmer aan en gooi hulle nat.
“As ek net gesit en niks gedoen het nie, hoe sou ek gevoel het?” som hy sy lewensfilosofie op.
* Paarl shoemaker Martiens Wells is still active at the age of 91.
More
News
|