94 nie uit nie
2005-04-28
Engela Duvenage
VIR volksanger David Kramer sou Pen Basson inspirasie vir ‘n fantastiese liedjie kon wees. Want hy is ‘n man so uit die kraal van Kramer se nimlike “Blokkies Joubert” rugbykarakter, wat vanuit sy sonnige kolletjie in die ouetehuis nog ‘n flikkering in die oog kry as sy vervloë sportdae ter sprake kom.
Vir die jonger manne is hy miskien net die naam agter die plaaslike Wellingtonse krieketklubveld, na hom vernoem uit erkenning vir sy lewenslange bydrae tot die spel op plaaslike en provinsiale vlak.
Diegene wat oor jare heen hom op die speelveld en om die bestuurstafel gedas en gebaadjie, leer ken het, praat net met die hoogste lof van “oom Pen”, wat gister sy 94ste verjaarsdag gevier het.
“Hy’s `n mens-mens”, “een van die grootste geeste van krieket en rugby in die Boland”, “hy’t die eerste nie-rassige krieketwedstryd op Wellington gereël, al in 1976", “legendaries”, “strategiese speler”, “vegter duisend”,‘‘’n ware heer”, “’n versoenende leier”.
Self kan hy nie meer onthou wanneer hy die eerste keer met ‘n rooi leerbal kennis gemaak het nie, maar in die annale is dit opgeteken dat hy sedert 1923 deel is van die Wellington Krieketklub - dus 81 van die klub se 106 bestaansjare. Sy naam verskyn al in 1936 in die Cape Times by die eerste span se telkaart.
In ‘n onderhoud wat deur die Wellington Museum op band opgeneem is etlike jare gelede, onthou hy hoe hy saam met die Kennedys, Jordans en selfs ds ML de Villiers, toonsetter van “Die Stem”, in die begindae gespeel het.
In sy eens suiwer stem vertel hy oor die vervloë dae toe hy ver met kar en perde ingery het van sy plaas Hoornbosch agter die Paardeberg om te kom oefen, en hoe daar eers op die “Zink Hall” van die ou Hugo Rust Laer velde gespeel is.
Krieket het hy tot op sy oudag nog aktief gespeel - en nie net staan-staan nie. So 16 jaar gelede het hy nog met ‘n legendariese boulvertoning Wellington se derde span van ‘n vernederende nederlaag gered deur vyf dodelike paaltjies te neem.
Dié storie is weer onlangs opgehaal by die Wellington Krieketklub se prysuitdeling, waar hy as erepresident teenwoordig was om ‘n beker te oorhandig wat juis sy oorsprong in dié dag se krieket het.
Voor die wedstryd is gespot dat indien Wellington wen, hy ‘n beker sou skenk vir die jaarlikse prysuitdeling.
Wellington het die wedstryd gewen, en die beker aangekoop vir die belowendste junior speler.
Hendrik Nicolaas het sy bynaam gekry nadat hy die woord pen op sy been geskryf en ‘n dag lank daarmee geloop het.
Hy vertel dat hy as veelsydige speler ewe vaardig met die bal as die kolf was.
Hy was op sy dag ‘n vinnige bouler “want ek wou voel dat ek sweet as ek oefen”.
Só saam met die ouderdom het hy sy tegniek aangepas om ‘n paar gevaarlike bybrekers te kon boul. En dis hulle wat so verwoesting gesaai het ‘n dekade of wat gelede.
Hy was ook ‘n handige kolwer, wat in die middelorde diens gedoen het op nommer 4 of 5.
Sy hoogste telling was 180 lopies “teen ‘n Kaapse span,” onthou hy vandag nog. Sy geheim was om die bal goed te plaas, die veldplasing van veldwerkers te bestudeer en die bal grondlangs te speel. Niks van die wilde houe waarvoor die jonger manne so lief is nie.
Hy was ook gekies as bestuurder van die Suid-Afrikaanse Platteland se toerspan na Australië, maar weens boerderyverpligtinge het hy nooit gegaan nie.
Ná sy speeljare, toe hy onder meer vir WP Platteland gespeel het, was hy 20 jaar Wellington se klubvoorsitter en ook erepresident van Boland krieket.
Dié groot gees het nie sommer ‘n kriekettoer per trein gemis nie. Dis juis op ‘n toer na Windhoek wat geen lid van die eerste span glo dié eens sterke man, toe al sewentig, kon vaspen nie.
Sy lewe was nie net krieket nie. Hy was ook jare voorsitter van die Wellington rugbyklub, spanbestuurder, keurder en lid van die Bolandse bestuur.
Oom Pen was ‘n handige losskakel en heelagter wat vir WP Platteland gespeel het en op 51 jaar eers sy rugbystewels opgehang het.
Op hoërskool het hy al vir Malmesbury se dorpspan gespeel in ‘n legendariese “Grand Challenge” wedstryd op Nuweland teen ‘n Hamiltonspan gelaai met Springbokke.
Hy was nog tot diep in sy tagtigs vlagman vir die derdespan, en as die gesondheid dit nou nog sou toelaat, sou hy sy plek getrou op Boland Stadion volgesit het, want ‘n wedstryd het hy nie sommer gemis nie.
Hy’s nog op hoogte van die Suid-Afrikaanse krieket, en kry ‘n vonkel in die oog as die gesprek draai na die Proteas se netjiese oorwinning in die tweede toets teen die Wes-Indiërs.
Vandag is hy merkbaar ouer, maar nog ‘n ware heer, vertel die Bolandse sportmense wat hom ken, en ’n legende waarop hulle graag ‘n glasie van sy geliefde whisky klink om nog ‘n lewensjaar te vier.
More
News
|