Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Plaaswerkers word akteurs

Plaaswerkers word akteurs
 
2006-09-21


“HIER aan die begin het dit maar so bietjie gelol met die fotonemery.
“Die vroumense het vir mens gelag met die geposeer en die snaakse trek van die gesig vir die kamera, maar nou is ons dit alweer gewoond.

“Nee wat, die toneelspelery kom nou sommer natural, want ons weet mos dis vir ’n goeie ding!” skerts Karel Draghoender van Boplaas, so ’n ent buite Wellington anderkant Groenberg.

Hy vertolk die rol van Jan Booysen, pa van Grietjie en Maria en man van Bokkie (Madelein Draghoender) op “Weltevreden” (die fiktieweplaas waar al die drama afspeel).

Hy is lief vir sy familie en wil hulle graag ’n beter kans in die lewe gee, maar sy een swakpunt is wyn!

So is daar ook nog Tannie Truitjie (Miena Geduldt) en Oom Koos (Petrus Jaars) wat soos kat en hond baklei wanneer hulle drink, maar steeds die hart en siel is van Weltevreden.

Pastoor Lennit Februarie (Arrie Jacobs), weet dat drank al te veel skade in sy gemeente aangerig het.

Dan is daar ook Martha (Sophie Ebner) die gesondheidswerker wat op die aangrensende plaas bly en Piet (Jerome Jonkers) waaroor al die meisies eens is dat hy die aantreklikste ou in die omtrek is! Gooi al hierdie karakters saam en bekende sepies sal eersdaags goed op hulle neuse kyk.

Projek-koördineerder Sue Power vertel dat die fotoverhaal van Weltevreden se doen en late, deel vorm van die Goedgedacht Trust se Landelike Opvoedings- en Ontspanningsprojek (LOOP).

Met dié fotoverhaal wil LOOP plaaswerkers en halfgeletterdes in landelike gemeenskappe in die Wes-Kaap bereik in hul huistaal.

“Inligting oor gemeenskapskwessies soos alkoholisme, ongewenste swangerskap, HIV/Vigs, TB, werkloosheid word bekyk.

Ander onderwerpe is hoe om aansoek te doen vir toelaes, veiligheid, werkersregte en ander gesondheids- en maatskaplike kwessies.

Die 16-blad fotoverhaal het reeds drie keer in volkleur verskyn en vertel ’n storie gebaseer op die lewe en probleme van die plaaswerker-gemeenskap. Daar word tans gewerk aan die volgende twee uitgawes.
Omtrent 15 000 eksemplare word elke maand gratis by munisipale kantore, op plase, klinieke en winkels in die Wynlandstreek en so ver as die Overberg en Weskus versprei. Welsynsorganisasies soos Sanca en DopStop en belangstellende boere en borge is ook betrokke.

Die Open Society Foundation het die aanvangskapitaal vir die projek verskaf en die redaksionele komitee waarop van die werkers dien, probeer tans om advertensies in die uitgawes te verkoop om onkostes te help dek.

“Ons is soos celebrities, want die mense innie dorp keer ons voor en sê dat hulle ons in die boekies gesien het. Sommige met boekies wys ons sommer waar ons verskyn - dis te grênd,” sê "akteur" Willem Gabriel.

Vir meer inligting, skakel Sue Power by 873-6396 en 082-899-2023 of e-pos powers@kingsley.co.za.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za