Perde trek op na fees
2006-10-12
DIE stof trek soos daar gereël word aan die Nasionale Trekperdfees 2006, die “viering van die perd en wyn” op 20 en 21 Oktober op die Nelson Wynlandgoed in Windmeul.
Op albei dae hou die Nelson Landgoed ’n wynfees met vrolike musiek.
Entoesiaste kan vertonings deur perde- en ponierasse asook uitstallings en demonstrasies van verwante vakmanskap en erfenisaspekte geniet.
Dit is nou ’n eeu gelede (1906) dat Hackneys, Vlaamperde, Clydedale-perde en ’n Shire vir die eerste keer in die SA Stamboek aangeteken is. Dit is ook die jaar dat die eerste Friesperde by Tafelbaaihawe geland het.
Vrydag word op Nelson Landgoed aan die jeug gewy, maar daar sal ook vertonings wees van 17 perde- en ponierasse, ook donkies en muile en die aand ’n skuurdans met buffet-ete.
Daar is ’n simposium oor eerste bergroetes vir perderytuie, rotskuns wat rytuie uitbeeld, die rol van trekperde op plase voor die koms van die trekker, en die toekoms van die land se Fries- en Vlaamperde.
Ander besienswaardighede is uitstallings van erfenisrytuie en foto- en trofeeversamelings van trekperd-legendes, asook demonstrasies van vakmanskap soos sweepvleg, tuiemaak en wielkorting.
Swartkruit-entoesiaste sal hulle verlustig in die voorlaaier demonstrasie, met selfs ’n Grietjie-tipe kanon wat Saterdag haar opwagting sal maak.
Op dié hoofdag sal benewens die perdevertonings ’n aanslag gemaak word op die wêreldrekord vir die hantering van die meeste perde aan ’n lang lyn deur ’n enkele persoon.
Daar sal ’n goudstormloop wees, piekniek langs die swembad en ’n kunsuitstalling deur 16 kunstenaars.
Tradisionele Maleier perde-items, ’n gimkanavertoning en perdesport-dissiplines soos dryfkuns, dressering en gimnastiek op ’n perd, is ook op die program.
Die dag word verder opgekikker deur ritte met perderytuie, demonstrasies van hoefbeslaan, die inspan van perde en ploegtyd op die plaas, asook ’n vertoning van veteraantrekkers.
Van 08:00 tot 16:00 sal Hoër Landbouskool ’n WP gimkanatoernooi aanbied waaraan tot 70 ruiters sal deelneem.
Daar is Saterdag om 17:00 ’n veiling van perde en ponies.
Vir navrae, skakel Eunice by 863-0397/082-808-1114, Hennie by 072-273-6042, Johan by 082-879-1100 (ná ure), of Alan by 083-953-4984.
Besprekings vir die volle simposium (R200 per persoon) en die dinee-dans (R145) is by Belinda (869-8453).
* A festival to celebrate cart-horses will be held at the Nelson wine estate in Agter Paarl on 20 and 21 October.
More
News
|