Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Rall doen die rondte

Rall doen die rondte
 
2006-11-09


TERWYL klaers toustaan met inligting oor beweerde onreëlmatige doen en late van Colin Rall, sakeman van Wellington, vorder die ondersoek van die polisie.

Voormalige werknemers by sy firma ProRugby is maande lank nie betaal nie. Firmas by wie daar promosie-artikels bestel is, soek betaling.

Besighede wat geld vooruit betaal het vir promosie klere wat nooit afgelewer is nie, eis terugbetaling.

Mense wat ingekoop het in die besigheid, soek hul geld terug omdat “beloftes nie nagekom word nie en kontrakte verbreek word”.

Ook ’n prokureur wat vroeër die Ralls verteenwoordig het, het ’n klag van bedrog aanhangig gemaak toe sy tjek “gehop” het.

Intussen wag skuldeisers vergeefs voor die deur van Rosestraat 11, waaruit die Ralls hul besigheid bedryf het. Colin, sy vrou Marinda en hul kinders het gepak en is uit Wellington weg, Bellville toe.

Die vier skoothondjies is by die hondehokke afgelaai, sê kennisse.Die seun en dogter word nog na ’n laerskool op die dorp aangery.

Rall antwoord nie meer sy selfoon nie en die spasie vir boodskappe is vol. Die ProRugby logo is van sy motor afgehaal.

“Ons sal seker nooit ons salarisse sien nie,” het voormalige werknemers verslae gesê.

Marietjie Geldenhuys moes verlede week, op sy aandrang, vir Rall by die News Café in Bellville ontmoet. Hy skuld haar R26 000 en is reeds in Augustus deur die Arbitrasiehof van die Departement Mannekrag (CCMA) beveel om die geld oor te betaal.

“Hy het weereens nie opgedaag nie. Toe ek hom skakel, het hy gesê sy vrou sal die volgende dag die geld in my bankrekening sit.

“Dit is nou nog nie gedoen nie. Die Departement Mannekrag neem hom nou hof toe.

“Dié man het my hele lewe opgemors, en so ook baie ander mense s’n. Ek wil graag by wees as hy die dag opgesluit word,” het Geldenhuys gesê.

Van die skolesporttydskrif waarvoor Rall in die Boland advertensies verkoop het en wat verlede week sou verskyn, is daar geen teken nie.

“Dié adverteerders, so ook ’n drukkery waar pamflette teen R11 000 voorberei is, kan maar vergeet. Colin het die pad gevat,” het ’n Wellingtonner gesê.

“En dan sal daar steeds mense wees wat hom vertrou. Dis hoekom hy so ’n groot borg was by ’n laerskool, vir beeldbou.

“Ander weet beter, soos met die Kerspartytjie wat vir ’n kinderhuis op die dorp gereël sou word en waarvoor daar borge gesoek is. Die vrou wat die borge genader het, het betyds lont geruik.”

Voormalige werkers en kontakte het na kliënte teruggegaan, en hulle om verskoning gevra omdat die tydskrif nie verskyn en bestelllings van klere nooit afgelewer is nie.

“Ons kan maar net sê ons is jammer. Hulle het ons vertrou en advertensies geplaas en geld inbetaal vir ProRugby, en so duisende rande verloor.”

Mense met inligting of navrae kan speur-insp David Manthey op Wellington 873-2913 skakel.

* Wellington businessman Colin Rall seems to be running away from allegations of fraud and debt.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za