Bekende Paarliet oorlede
2006-11-16
’n BEKENDE Paarliet, Roy van Eyssen (58), het Dinsdag die stryd teen kanker verloor. Hy is tuis oorlede.
Van Eyssen (58), ’n bekende in sportkringe, het feitlik sy hele lewe by die Munisipaliteit gewerk en was personeelhoof toe hy sowat tien jaar gelede vroeg afgetree het.
Hy het altyd na Willem Wagenaar, Hennie Liebenberg en Johan Gous as sy leermeesters verwys.
Hy het op sportgebied, vanaf sy laerskooldae by WA Joubert, diep spore getrap.
Hy was gedurende sy hoërskoolloopbaan by HJS rugbykaptein vanaf o.13A tot o.19A (voorwaar ’n rekord), asook kaptein van die eerste krieketspan.
Daarna het hy die Paarl gereeld op die veld verteenwoordig in die eerste rugby- en krieketspanne. Hy was later ook bestuurslid en ’n lewenslange erelid van die rugbyklub.
Sy vrou Ina het hom altyd met alles ondersteun, van sy dae op die sportveld tot en met sy laaste asem. Hy word benewens sy vrou oorleef deur twee seuns, Mark van Moorreesburg en Stephen van die Paarl, en drie kleinkinders.
Die begrafnisdiens is môre om 15:30 in die Strooidakkerk.
More
News
|