Gooi Duggie, gooi
2006-11-16
IN Duggie se kroeg op Klapmuts staan ’n pragtige meisie - kaal. Sy is al 40 jaar daar, met water wat spoel om haar heupe.
Duggie ken nie haar naam nie, en ook nie haar telefoonnommer en adres nie.
Maar dis al wat Dugmore Ntoyise (65) nie ken in sy kroeg nie. Dié man met die breë, blinkwit glimlag het in 1961 uit die Transkei in Klapmuts aangekom, op soek na werk.
Die grootbaas van Klapmuts, Issie Hodes, het die 20-jarige in die kombuis van die hotel aan die werk gesit. Duggie het twee jaar lank skottelgoed gewas, vloere gemop, kos gemaak. Poeding ook, onthou hy.
Toe was hy kelner, en het hy in die bottelstoor en in die kantien gewerk. Tot die belangrike jaar, 1979, toe hy kroegman word.
“Ek wou buite werk, maar my baas sê die mense soek my binne,” glimlag hy trots. So is hy vandag nog agter die kroegtoonbank.
Duggie het 35 jaar vir Hodes gewerk, tot hy die Klapmuts Hotel verkoop het. Nou werk hy vir die nuwe eienaar, Anton Dunn.
“Daardie vroeë tye,” onthou Duggie, “was bietjie swaar, so met ’n swartman agter die counter. Maar die mense wat ingekom het, was altyd happy met my.”
Hy vertel van die tye toe die hoofpad, die ou Paarlpad, by die hotel verbygeloop het.
“Toe was WP nog goed en almal het hier gestop op pad na Nuweland. Ná die wedstryd moes ek al die stoele wegpak, want dan staan die plek vol.”
Soos Duggie verlede week gesels, het ’n gereelde besoeker aan die kroeg so oor sy bier geluister.
“Daai kar-smous Piet Witbroek, hy kom al 40 jaar hiernatoe,” het hy laat hoor.
“Hy dink elke dag as hy hier kom, het die see teruggetrek om daai meisie se bene.”
Duggie het dit beaam: “Sy’t nie naam nie. Sy’t ook nie ’n adres nie. Almal soek die adres.”
Daarop het die hele kroeg gedraai, verby die bottels agter die kroeg en die disprins te koop teen die muur. Hulle het gestaar na die prent van die kaal meisie bokant die deur, maar te bly om ’n rede te hê om te kyk, en nie skelm te moet loer nie.
“Onthou julle nog vir oorlede oom Fred Eksteen, die duiweboer?,” vra die besoeker weer.
“Oom Fred wat altyd saam met oom Jan uit die Kaap uit Paarl toe gery het. Hier naby Klapmuts het oom Jan gesê ‘sjuut, sjuut’ en as oom Jan vra wat hy hoor, het oom Fred gesê ‘Ou Issie roep.’ Dan draai hulle by Issie se hotel in.”
En soos dit maar gaan in ’n kroeg, is die gesels nog nie op nie.
“Daai einste oom Fred se Engels was nie so goed nie. Toe die Engelsman hom vra of sy duiwe almal ‘winners’ is, antwoord hy, nee magtig man, dis nie hoenders nie, dis top duiwe hierdie.”
Hoekom doen Hennie van Niekerk van Porterville, nog ’n besoeker verlede Donderdag, so gereeld by die Klapmuts kroeg aan?
“Ons is bekommerd oor Duggie. Ons moet kom kyk of hy allright is.” Nog ’n motor hou voor die hotel stil en Duggie loer buitentoe. “Ek skink solank die aartappels,” ken die kroegman die vodka-drinker se smaak.
Duggie en sy vier kinders woon agter die hotel in ’n woning wat Hodes nog vir hom laat bou het. Sy vrou kom gereeld uit die Transkei kuier.
By die kroeg, vertel Duggie trots, was daar nog nooit ’n groot baklei nie. “Ons het hier nog net gelag, en gekuier, en partykeer bietjie gedans.”
Duggie self het in 1973 laas ietsie sterk oor die lippe gehad.
“Ek het daai tyd op ’n Sondag whisky en bietjie stout gedrink. Maar toe sien ek daai storie werk nie uit nie. Maandag is my kop nie lekker nie - en ek is trots op my werk.”
Elke oggend maak Duggie eers skoon - die vloer, die tafels en stoele, die rakke, en dan die glase.
Destyds, vertel die gesoute kroegman, het die mans brandewyn en rum gedrink. Die vrouens het toe ginger square gedrink.
“Vandag drink hulle snaakse goed soos springbokkies en die John Deere en die ladies drink vodka, passion fruit en lemonade.”
“My baas het my geleer om dit te maak. Die springbokkie is die peppermint met Cape Velvet en die John Deere die kahlua saam met die vodka.
“En na hulle lekker gekuier het, of as hulle verjaar, dan roep hulle ‘gooi Duggie, gooi’. Dan gooi ek die Jagermeister.
“Ons het al baie bachelor paarties hier gehad. Dan moet ek ’n baie groot bierglas vat en al die dranke bymekaar gooi. Dit eindig met soetwyn wat bykom - want sien, hy moet val, en soetwyn maak die bene lam.
“Ek het ook een Sondag geleer om die nuwe computer te werk. Toe moet ek die ou till los. Die derde dag toe vat ek alleen.”
Nou wanneer is dit Duggie se laaste roep?
“As ek 70 is, dan tree ek af. Maar ek is nie haastig nie. Ek is nog reg,” glimlag hy terwyl sy opvryflap draai en draai in ’n skitterblink glas.
* The bar at the Klapmuts Hotel has remained unchanged for decades - along with the barman.
More
News
|