Verlam ná val
2006-11-16
DIE werklikheid sink nou eers in. Haar man sal nooit weer loop ná sy val van ‘n trap in die Unitech koshuis op Wellington nie. Hy is van sy middellyf af verlam.
Vir Zelda de Beer, dosent in menslike beweegkunde aan die technikon, haar twee jong kinders en veral vir haar man, Samuel, is die gedagte ‘n reuse berg wat oorwin moet word.
Samuel (47) het op die vakansiedag in September vermoedelik gegly by ‘n trap in die gang van Huis Wouter Malan, waar sy vrou koshuismoeder is.
Hy onthou net dat hy in die lug oor die reling bolmakiesie geslaan het. Verder weet hy niks. Zelda weet ook nie hoe lank haar man in die gang gelê het voordat hulle hom om 09:00 gekry het nie.
Samuel is per ambulans na die Paarl Hospitaal geneem waar hy geopereer is en oorgeplaas is na die Universiteit Kaapstad se rehabilitasiesentrum vir spinale beserings.
‘n Rugwerwel het gebars, vertel Zelda, en van die stukkies het sy rugmurg beskadig. Twee ander rugwerwels is ook gebreek. Die prognose was ‘n harde slag - Samuel sou nooit weer die gebruik van sy bene hê nie.
“Fisies gaan dit nou beter met Samuel,” het Zelda hierdie week gesê, “maar sy gemoed wissel baie soos die realiteite begin posvat. Dis ‘n lang pad na herstel.”
‘n Fisioterapeut, arbeidsterapeut, ‘n biogenetikus, maatskaplike werker en ‘n sielkundige het hom nou onder hande.
Die gesin hoop dat hul pa teen Kersfees sal kan huis toe kom. Maar voor daardie tyd sal die trappe na die woning, skuifdeure na vertrekke en die badkamer verbou moet word.
Hulle sal ‘n rystoel moet aanskaf asook ‘n outomatiese voertuig wat kan omgebou word dat hy sy hande kan gebruik om te bestuur.
Want Samuel, ‘n personeellid by Studentesake aan die Universiteit van Stellenbosch, wil weer gaan werk.
Die gesin weet nou dat daar vele veranderings in hul lewe gemaak sal moet word. Hulle is so lief vir kamp. Samuel is so ‘n lewendige mens wat nooit kon stilsit nie. Hy het al deelgeneem aan die Comrades en die Two Oceans Marathon.
“Ons lewe het in ‘n oogwink verander. Nou moet ons Samuel kry dat hy so normaal moontlik kan lewe,” sê Zelda dapper.
Ouers van Laerskool Hugo Rust het ‘n hulpfonds gestig om die gesin by te staan. Dit is die Hugo Rust Omgeegroep, ABSA Wellington-tak, nr 917 387 2866.
Die De Beers voel dat sonder die onderskraging en gebede van die gemeenskap, hulle nooit die ongeluk sou kon verwerk nie. Hulle is innig dankbaar vir almal wat hulle deur die moeilike tye dra.
* The father of two young children is a paraplegic after a fall in a student hostel in Wellington.
More
News
|