Van sepies tot dramas
2005-02-21
VIR die afgelope paar weke het 'n jong Wellingtonner die hare van 'n hele paar ywerige Egoli-kykers in die Vallei laat rys met haar in beheer houdinkie en manewales in die "Windhoek-kantoor".
Oud-Hugenoter Bea Claassen is nog tot hierdie week te sien in die rol van Erika Kuschke, 'n regsadviseur vir die Namibiese vervaardigingsmaatskappy Trustco, wat vinnig-vinnig weer verloof geraak het aan haar voormalige liefde, Walco prokureur Werner Krantz (gespeel deur Stefan Ludik) wanneer hy vir sake in Windhoek is.
Wanneer Werner egter hierdie week terugkeer hoofkantoor toe in Johannes- burg, laat hy egter vir Erika agter.
Erika, wat haar verskyning op 13 Januarie in hierdie gewilde MNet-sepie gemaak het, maak in die proses sommer kwaaivriende met die liefdevolle, persoonlike assistent Audrey (gespeel deur Michelle Pienaar), aan wie sy op 'n stadium sê haar "brein is so groot soos 'n ertjie".
Dit is hierdie agteraf baasspelerigheid wat haar 'n ongewilde karakter by sommige kykers maak.
"Maar die Egoli-mense het my gewaarsku dat as mense vir my sê hulle haat my karakter, ek juis eintlik my `job' regdoen!", lag die vrolike 23-jarige, wat sê sy's presies die teenoorgestelde per- soonlikheid van Erika.
"Ek is baie meer diplomaties, baie meer van 'n `people pleaser', sosiaal en baie lief vir mense."
Sy het ses weke in Johannesburg verfilm saam met Louwna, Rex en die res van die Egoli-span, wat sy as 'n wonderlike ervaring beskryf.
Vir die volgende twee maande het sy egter nie tyd vir sepies nie, want Shakespeare wag op haar.
Tuis by haar ouers Nico en Esmé Claassen van Blackprincestraat in Wellington is sy besig om haar woorde te leer as Viola, een van die hoofkarakters in "Twaalfde Nag".
Dit is Uys Krige se vertaling van die Shakespeare-komedie "Twelfth Night". Sy speel saam met Anna-Mart van der Merwe en Marius Weyers .Die stuk open van 14 tot 19 Maart in die Oude Libertas Teater op Stellenbosch, waarna dit na die KKNK verskuif. Van 4 tot 23 April sal dit in die Kaap op die planke wees.
Bea vertel dat hoewel die teks in Afrikaans is, veral hoofkarakters soos hare vreeslike hoogdrawende, poëtiese taal gebruik.
En selfs met 'n Honneurs in Drama van die Universiteit van Stellenbosch, wat sy in 2003 verwerf het, is dit nogal 'n tammeletjie om die stuk vir die gehoor te interpreteer.
Gelukkig, sê sy, sorg veral die ondersteunende karakters vir hope humor vir 'n ligte aanslag tot hierdie komedie.
Bea se eerste professionele werk was as stem in 'n radio-advertensie wat sy self net een keer op 5Fm gehoor het!
Verlede jaar moes sy inspring as kelnerin en was sy ook vir ses maande betrokke saam met Albert Maritz se gemeenskapsteaterprojek onder die vaandel van Procare.
"Hopelik is daar weer op 'n stadium vir my 'n kans terug in die sepie, want Egoli kort altyd 'n feeks," hou die donkerkop, wat haar oog sekuur gefokus op sukses het, duimvas."
More
News
|