Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Moeders in die polisiediens

Moeders in die polisiediens
 
2005-05-05


SY kry hoendervleis as sy praat oor die polisie, dié nuwe vrou in bevel van die geregsdienaars van Paarl-Oos.

Nou die dag het supt Gerda van Niekerk tot verbasing van omstanders op die stoep van die Paarl-Oos polisiestasie gedans.

Daar is die vorige dag en nag nie ’n enkele saak gemaak nie.

“Dis spanwerk wat werk,” meen sy trots.

“Die hele gebied is nou in sektore opgedeel en daar is oral polisiebeamptes sigbaar.

“Dit was die heerlikste gevoel toe ’n oom bel en vra of daar nog ’n polisiestasie in Paarl-Oos oopgemaak het. Hy sien dan nou polisie
waar hy nog nooit patrollievoertuie gesien het nie.

“’n Mens is geneig om te blus waar dit brand, maar almal is geregtig op die diens van die polisie.”

Supt Van Niekerk (34) is gewoond aan die brandpunte van Nyanga, Guguletu en die omliggende plakkerskampe.

Paarl-Oos, die polisielede en die inwoners het dadelik in haar hart gekruip.

“Ek is dankbaar vir die ondervinding van die ‘Wilde Weste’. Nou voel dit asof ek op pensioen is, maar ek is gereed vir enige uitdaging.”

Sy kom van Beaufort-Wes, en dit was nie haar ouers nie, maar ’n vriendin van haar ma wat so voorspraak gemaak het dat al vier die Brönn kinders vandag in die polisie is.

Die afgelope twee jaar was sy in bevel van die nooddiens 1-0111.

“Ek is ingestel op operasioneel,” borrel sy.

“Ek het twee passies - om misdaad te beveg en dienslewering. Mense is my prioriteit.

“Ek glo in spanwerk. Ek is nog jonk, en ek het die energie, en ek werk saam in die span - op die grond en op projekte.”

Op Moedersdag gaan sy egter nie werk nie. Sy gaan laat in die bed bly, want dan gaan haar man Anton (polisiehondeinstrukteur) en dogtertjie Kyla (7) vir haar met ontbyt bederf.

En daarna sal hulle seker iewers rustig gaan piekniek hou, want op Moedersdag word sy op die hande gedra.

“Ek is soos ’n bobbejaan oor ’n presentjie,” bieg sy. Daarom het sy geskimp vir ’n Queen DVD langs die koffie op die ontbytskinkbord.

En dan draai sy terug na haar werk.

“Ek is nie vol dinge nie. What you see is what you get,” sê die senior superintendent.

“En die mense wat van my hou, is die mense wat werk. Hier werk ons as ’n span, of jy val uit die bus uit,” sê sy ernstig, maar haar lewendige blou oë bly glimlag.

“Ek glo in service with a smile.”

Nog moeders

Daar is vanjaar ook moeders in bevel van polisiemanne en -vroue by die Paarl polisiestasie aangestel.

Snr/supt Cornel Sutherland sit fyntjies, maar duidelik in beheer, in die stoel van Paarl speurhoof.

Sy het deur die range van die polisie gevorder, van haar grootworddae in Hermanus tot verlede jaar by misdaadintelligensie in Kaapstad.

Ook by dié stasie is snr/supt Esperanza Daniels as hoof van die gemeenskapsdienssentrum aangestel.

Sy was verlede jaar Bolandarea sosiale misdaadvoorkomingshoof, nadat sy in beheer van die Wellington polisiestasie was.

Supt Daniels is op kraamverlof, want daar sal een van die dae ’n sussie opdaag vir haar twee seuntjies.

Die bekende Paarlse speurder, kapt Selma Bredenhann, het verlede jaar as speurhoof die leisels op Mbekweni oorgeneem.

Sy vertel hoe lekker dit is wanneer lede van die Mbekweni gemeenskap aanklop en sy kan help om hulle probleme op te los, “soos dit in ’n familie hoort”.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za