Onderwyser oorlede
2006-11-30
‘n BEKENDE inwoner van Wellington en vroeëre Bolandse rugby- en krieketspeler van die sestigerjare is Vrydagaand skielik oorlede nadat hy tien dae lank in die Paarl Medi-Clinic vir longontsteking behandel is.
Hercules von Mo-lendorff (65), aflos-wiskunde-onderwyser by Hugenote Hoërskool, is Maandag 13 November in die hospitaal opgeneem. Sy toestand het gou versleg en hy is die volgende dag na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas.
Von Molendorff het aan die Hugenote Hoërskool matrikuleer en ‘n meestersgraad (M.Sc.) aan Stellenbosch verwerf. Hy het aanvanklik onderwys gegee maar later by Siemens in Johannesburg gewerk. Hy het in 1990 as senior tegniese bestuurder afgetree.
Daarna het hy op Garies en Alexanderbaai skoolgehou totdat hy in 1998 teruggekeer het na Wellington, waar hy tans as wiskunde-onderwyser afgelos het.
Von Molendorff word oorleef deur sy vrou, ‘n aangenome seun, Jacques von Molendorff, twee stiefseuns, Arno en Morné van Rooyen, asook sy broer, Kemp von Molendorff, en suster, Elmien du Toit, albei van Wellington.
Die troosdiens Vrydag om 11:00 in die NGK Wellington-Oos word gelei deur ds NJ van As.
More
News
|