Bekende Paarliet sterf
2005-05-05
IMMERGROEN weldoener wat tot met haar dood nie net die belange van haar ouderdomsgenote nie, maar ook dié van minderbevoorregtes op die hart gedra het.
Só is mev. Christine Eksteen (85), “waardige dame” van die Paarl, vandeesweek deur jarelange ACVV-kollegas beskryf nadat hulle van haar onverwagse heengaan verneem het.
Haar lyk is verlede Sondag ná kerk deur bekommerde bure in die aftreeoord De Oude Renbaan langs haar bed aangetref nadat sy vermoedelik reeds Saterdagoggend vroeg aan ‘n massiewe beroerte dood is.
Benewens 'n merkwaardige steunpilaar op maatskaplike terrein, was Eksteen dekades lank ook matriarg van die nasate van die familie Louw van die plaas Laborie in Suider-Paarl, waar sy as laaste van haar pa, Tobie, se veertien kinders gebore is.
Die enigste oorlewende Laborie-Louw van haar geslag is nou haar ouer broer, Kobus Louw (90) van Huis Vergenoegd in die Paarl Sy en haar man Theo het op die plaas De Oude Renbaan geboer tot sy dood 17 jaar gelede, waarná die plaas in 'n aftreeoord omskep is. Christine het in 1974 ‘n deurslaggewende rol gespeel in die totstandkoming van Huis Vergenoegd.
Sy was ten tyde van haar dood steeds in die bestuur van dié tehuis, asook dekades lank reeds voorsitter van die ACVV (Paarl) se Gesinsorgkomitee.
Buiten haar broer, word sy oorleef deur twee dogters, Christel Basson van Darling en Annamarie Eksteen van Franschhoek, asook drie kleinkinders en vyf agterkleinkinders.
Die teraardebestelling is môreoggend om 09:30 in die kerkhof van die Strooidakkerk, gevolg deur ‘n gedenkdiens om 10:30 in die kerk.
More
News
|