Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Bonus vir barmhartige

Bonus vir barmhartige
 
2006-11-30

Malané Bosman

SY het ’n bonus van die Here gekry. Sy het nog tyd gekry om weer ’n wonderlike man as lewensmaat te ontvang.

So praat Susann Marais (79), oudpredikantsvrou van die Strooidakkerk in die Paarl, en groot gees op die hoofbestuur van die ACVV, Huis Vergenoegd, Rusoord, die FAK en die Paarl Hospitaalraad.

Dit was ’n groot skok toe sy tien jaar gelede haar man, ds Schutz Marais, onverwags aan die dood moes afstaan.

Maar sy het met haar alombekende deursettingsvermoë opgestaan en haar roeping, om andere te dien, met ywer verder gevoer.

Toe sy, ds Marais en hul vier kinders in 1964 as leraarspaar in die Paarl gekom het, het gemeentelede haar dadelik as ’n raakvatter leer ken. Hul eerste taak was immers om die ou, vervalle pastorie te herbou.

Dit het hulle gedoen, die pragmonument sonder skuld ingewy, en 25 jaar daar gewoon.

Vandag staan sy op trou met Jan Horn (83) van die plaas Hornstras by Albertinia, die man wat sy as baba in haar grootwordwêreld daar, leer ken het.

Susann se glimlag is sag as sy oor hom praat. Soos Horn is sy ook ’n oud-Tukkie.

Deur die jare was die Marais-gesin en die Horns bevriend. Sy vrou Valeria het hom na ’n lang siekbed drie jaar gelede, ontval.

“Ons ken mekaar se verlede en mekaar se kinders,” het Susann gesê. “Hy is ’n aangename gespreksmaat met ’n fyn sin vir humor.”

Hulle is altwee fiks en toer graag, lees graag. Susann het vier kinders en 12 kleinkinders, hy ook.

Vanjaar het Ina Rens, jarelange voorsitter van Huis Vergenoegd, uitgetree en in Augustus is die vise-voorsitter, Susann Marais, in haar plek verkies. Dertig jaar gelede, het hulle saam die tehuis vir bejaardes aan die Paarlse Hoofstraat opgerig.

Dit was met huiwering dat sy aanvaar het. Sy het immers toe pas die voorsitterskap van Rusoord ná 41 jaar neergelê en sy is steeds voorsitter van die Paarl Hospitaalraad.

“Ek wou klaarmaak, en my vise-president by Rusoord, Minette du Toit, is bekwaam en gereed om oor te neem. Ek wou gaan rus en ek het geweet ek gaan trou.

“Toe kom die roep na Huis Vergenoegd en ek het besef dis ’n laaste geleentheid om van diens te wees.”

Die tyd is nog nie reg om uit die Hospitaalraad te tree nie. Ná 30 jaar daar, nou as voorsitter, wil sy nog graag die R280 miljoen uitbreidings tot voltooiing bybly.

“Ek voel sterk dat die jonger geslag leiers na vore moet tree. Die potensiaal is daar, maar vandag se jong mense het nie altyd die tyd vir absolute betrokkenheid nie.”

Sy reken dis hoekom die ACVV, wat deur vrywilligers gedra word en waar sy 25 jaar op die hoofbestuur gedien het, nou swaar kry.

“Ek is baie lief vir die welsyn, maar deur die jare het ek nooit my huwelik, my kinders en my huis afgeskeep nie. Dis belangrik om die ewewig te behou.”

Dis ook hoekom sy twee jaar gelede met baldanse begin het, vir oefening twee middae ’n week.

“Ek dans net met my onderwyser,” keer sy.

“Ek glo ’n vrou se roeping as huweliksmaat is heilig en uiters belangrik, maar jou diens aan die gemeenskap kan jy nie nalaat nie.
Jy is dit egter aan jouself verskuldig om ’n ander belangstelling te kweek.”

Susann het gholf gekies, en musiek en weefwerk.

“Ek weet nie hoe ek vir alles tyd gekry het nie,” erken sy.

Ná die troue op 10 Desember, ’n stil geleentheid vir die familie, sal die egpaar hulle in haar woning vestig in DeJonghslaan, styf teen die Strooidakkerk.

’n Seun het reeds die Horn-boerdery oorgeneem, maar hulle sal baie tyd op die plaas deurbring, waar Horn steeds woon.

“Ons trou vir samesyn, omdat ons altwee baie alleen is. Ons is aanvullend vir mekaar. Soos ek een is vir welsyn en musiek, is Jan op die praktiese ingestel. Hy speel nie gholf nie, maar hy leer nou,” lag sy.

“Saambly is teen ons beginsels. Ons is altwee gevestig en finansieel versorg en as hy hier naby gebly het, was dit dalk anders.

“Ons weet ’n siekte kan ons enige dag tref, maar daar het liefde tussen ons ontstaan en ons gaan die toekoms saam aandurf.

“Die kinders moedig ons ook aan. Hulle is bekommerd dat ons so alleen is.

“Ek beskou dit as ’n wonderwerk dat ons vriendskap in liefde ontwikkel het. ’n Mens kan nie sonder liefde trou nie,” sê die vrou wat
oor die jare soveel liefde en begrip gedeel het.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za