Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Fritz skitter met dwergbome

Fritz skitter met dwergbome
 
2006-12-07


FRITZ JOUBERT van die Paarl is ’n man met groen vingers.
Onlangs het twee van sy dwergbome pryse gewen by die skou van die Boland Bonsai-klub (of Kai) op Stellenbosch.

’n Apiesdoring (Acacia galpinii) het die prys vir die beste inheemse boom gewen en ’n Witolien (Buddleja saligna) is as die beste semi-kaskade aangewys.

Nog ’n Paarliet, Paul Jooste, is as die beste beginner aangewys. Francois Voges van Somerset-Wes se esdoring-woud was die algehele kampioen van die skou.

Om by Fritz te gaan kuier in sy Bonsai-wêreld, is ’n toer deur ’n wonderwêreld.

Party mense skilder, ander speel kitaar, maar Fritz leef sy kreatiwiteit in sy bonsai uit.

“Ek was van jongs af ’n boommens met ’n groot passie vir inheemse bome. Ek het in daardie stadium nooit gedink ek sou in bonsai belang stel nie.

“’n Klompie jare gelede het ’n vriend wat lid was van die Boland Bonsai-vereniging op Stellenbosch, Pietman Retief, my aangemoedig om van die klub se vergaderings by te woon.

“Ek was aanvanklik huiwerig, maar na ’n ruk saam met die bonsaimense het die gogga my behoorlik gebyt.

“Ek het agtergekom dat my waardering vir die kunswerke wat bome in die natuur is, my gehelp het om vorm aan bonsaibome te gee.”

Fritz sê enigeen wat plante kan laat groei, kan bonsai beoefen. Die moeilikste deel is die kreatiewe stilering.

“Dit gaan maar oor natuurlike aanvoeling ook,” vertel hy. “’n Mens moet van niks iets skep, vorm en beweging gee.

Sy beskrywing van ’n bonsai-boom gee ’n mens ’n idee van wat dié kunsvorm behels: “Dit is ’n replika van iets wat jy in die natuur gesien het en wat jy nou in hierdie miniatuurvorm naboots en ook ouer laat lyk as wat dit in werklikheid is.”

Die groot geheim van bonsai is geduld.

“Dit is nogal teenstrydig met my persoonlikheid,” glimlag Fritz.
As oud-joernalis is hy gewoond aan ’n vinnige, adrenalien-belaaide lewe.

Maar bonsai het hom geleer om tydsaam met dié klein boompies om te gaan.

“My vrou wens ek gee so baie aandag aan haar as aan my bome.”

Dit is duidelik dat hierdie stokperdjie ’n mens se lewe oorneem.

Dit begin by die kry van die boom. ’n Mens kan soek by ’n kwekery vir ’n boom of jy kan een in die veld gaan uithaal.

“Maar dit moet met die nodige voorsorg en toestemming gedoen word,” maan Fritz.

Hy werk meestal met inheemse bome en sy gunsteling is die Witolien (Buddleja saligna), soos ’n mens duidelik agterkom as hy jou deur sy versameling neem.

“Die Witolien bonsai is maklik, die bome groei vinnig en die blare verklein ook mooi - wat baie belangrik is.”

Ander gunstelinge by Fritz is die gewone olienhout (Olea african) en ook doringbome.

Fritz het die afgelope tien jaar ongeveer 50 bome bymekaargemaak en die versorging neem ’n groot deel van elke dag op.

“Dit is moeilik om weg te gaan - veral die somermaande tussen Januarie en Maart is kritiek.

“Ek het besproeiing, maar ek vertrou dit nie heeltemal nie. Die bome moet elke dag water kry, soms twee keer per dag as dit baie warm is.”

Nog ’n interessantheid is dat bonsais nie binnenshuis wil wees nie.
“Jy kan hulle hoogstens vir ’n dag of twee binne uitstal, maar dit is nie ’n potplant nie.

“Hulle wil aan die elemente blootgestel word, hulle wil asem haal.”

Ons stap deur die versameling spogbome, vertoef in die kwekery en kyk na die beginfases van nuwe bonsai.

Fritz loop met ’n skêrtjie en bekyk die boompies met ’n kritiese oog - hier knip hy nuwe groei, daar verduidelik hy wat hy beoog met ’n spesifieke boom.

“Dit is die enigste lewendige kuns. Die bome groei steeds, moet vertroetel word, kan steeds verbeter word.”

Die maklikste manier om te begin, meen Fritz, is om by ’n klub aan te sluit.

Die Boland Bonsaiklub kan gekontak word by 082-554-1476.

Bonsai het meer as duisend jaar gelede in China begin op ’n baie basiese skaal, bekend as pun-sai. Hierdie eerste voorbeelde het min blare en ruwe stamme gehad wat dikwels soos diere, drake en voëls gelyk het.

Later het Bonsai versprei na Japan (1185 - 1333) deur Zen Boeddisme. Hier is dit verfyn en ook bekend gestel aan die aristokrasie. In die 19de eeu het Westerlinge die besondere kunsvorm ontdek.

* A Paarlite has won prizes for the bonsai (dwarf) trees he has cultivated.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za