Engele dans oor plase
2006-12-07
DIS die nuwe casino op Worcester. Nee, dis engeltjies wat hul vlerkies oopmaak in die lug, dié ligballe wat voorverlede week so oor die plase by Wel-lington gedans het.
Boere wat van ná uitvaltyd by stappers op die paaie van die Bovlei gehoor het van dié verskynsel, was bra skepties.
“Dis seker maar die voggies wat die ligte so laat skyn het,” het hulle gemeen.
Maar toe gaan hulle self kyk - voor uitspantyd - en sowaar.
Op die kop nege-uur het die ligte oor ’n brak kol in Herman le Roux se stokkiesland in die Bovlei begin sirkel, vyf ligte wat so van die hoeke af na binne en weer na buite gedans het.
“Dit het soos ligkolle in die mis gelyk,” het ’n boer later vertel. “In die lug so halfpad so hoog soos ’n vliegtuig. Soekligte sonder strale.”
“Toe begin die ligkolle swenk al Voor-Groenberg langs, en verder in Hermon se rigting. Oor Riaan Mouton se plek, en op die kop tien-uur toe verdwyn dit daar bokant Landau.”
So het die ligte gespeel Sondag- en Maandagaand en toe weer Dinsdag en Woensdagaand, 19 tot 23 November.
Dit was juis die Donderdagaand dat ’n boervrou half-tien uit die dorp uit gery het.
Sy het net die kinders gaan haal, en het niks ander draaie gemaak nie, het sy haar man verseker. Kom kyk self!
En sowaar, die ligte swenk oor die Soetendalpad, rigting Hermon, en toe is dit skoonveld.
’n Ander boervrou wat haar man tot op ’n bult laat ry het om beter te kan sien, lag vandag.
“Ek wou nog uit die kar klim, want dis mooi om te sien, maar Niel het my teruggeroep. Hy was bang hulle gryp my die lug in.”
Die volgende dag het ’n huishulp met sekerheid vertel dis die Here wat opgestaan het vir al die sondes wat gedoen word. Dis nou te sê as dit nie die Casino se ligte was nie.
Nee, het haar assistent laat hoor.
“Dit kan nie die casino wees nie, want hoe sou die ligte oor die berg gekom het?”
Navraag by omgewingskenners kon nie lig werp op die saak nie. Daar is wel iets soos Southern Lights, die suidelike boetie van die beroemde Northern Lights, maar dié kom eintlik net in die poolgebiede voor.
Niks is seker onmoontlik nie. Dié ligte, Aurora genoem, is sigbaar van die aardoppervlak en lyk soos gordyne bewegende lig.
Auroras word veroorsaak deur energiebelaaide deeltjies van die sonwind wat in die aarde se magnetiese veld vasgevang is.
Soos hierdie deeltjies heen en weer deur die magnetiese veldlyne spiraal, beland daarvan in die atmosfeer naby die magnetiese noord en suidpool.
Die delikate kleure word veroorsaak deur elektrone wat binne sig met suurstof- en stikstofmolekules in die atmosfeer bots.
Wanneer die deeltjies afgetakel word, word die lig uitgestraal wat in die Auroras waargeneem word.
Aan die hand van dié internet verduideliking was dit heel duidelik vir die inwoners van die Bovlei en vir die stappers op die plaaspaaie: “Dis reg so, die engele stuur strale uit die hemel op ons af.”
* Strange lights have been seen in the Bovlei outside Wellington.
More
News
|