Downing spook steeds by beleggers
2006-12-07
VERSKEIE beleggers wat kliënte was van die ontslape makelaar, Sam Downing, is verlede week gedagvaar om in die Wellingtonse Landdroshof vrae te beantwoord in verband met hul beleggings.
Downing, wat na bewering meer as R20 miljoen van sy kliënte se geld verduister het, het skielik op 9 Maart 2004 gesterf, vermoedelik aan ’n oordosis pille.
Ná Downing se dood is die boedel in die Kaapstadse hooggeregshof gesekwestreer.
Daar word nou van beleggers verwag om enige rente of inkomste wat hulle uit hul beleggings verdien het, terug te betaal aan die boedel, aangesien die geld na bewering met ’n onwettige piramideskema geïn was.
Beleggers voer aan dat hulle deur Downing onder die indruk gebring is dat hulle geld op die aandelemark belê sou word.
Een van die beleggers wat onbekend wil bly, het gesê dat Downing aanvanklik ’n baie gerespekteerde en geliefde man in die gemeenskap was.
“Niemand het vermoed dat hy ooit geld sou verduister nie, en ons het vir hom met derduisende rande vertrou. Maar in die langtermyn is ons verkeerd bewys en dit het uitgedraai dat hy ’n skelm was.”
Nog ’n belegger wat vrae moes beantwoord, het gesê dat hy die geld terug sal betaal, al koop dit net vir hom vrede.
Die hofverrigtinge is uitgestel tot 16 Maart.
* The death of a Wellington broker still has repercussions for his clients. - Lise Beyers
More
News
|