Skool kry padveilige duikweg
2006-12-07
DIE skool Soetendal Primêr langs die R44-pad net buite Wellington, kry sy eie duikweg ter wille van die kinders se veiligheid langs dié besige roete na Hermon.
Die duikweg nader nou vinnig voltooiing en behoort gereed te wees vir ingebruikneming met die heropening van skole in Januarie.
Die bou van die nuwe duikweg onderdeur die R44 is die antwoord op die padveiligheidsgevaar vir leerlinge.
“Die afgelope 20 jaar het vyf leerders van die skool op die Hermonpad gesterf.
“Dit was vyf leerlinge te veel en hoewel die padgevaar grotendeels met bykomende maatreëls aangespreek is, behoort hierdie nuwe duikweg die padgevaar vir leerlinge hok te slaan,” sê skoolhoof Esmond Lategan.
Volgens Neels van Rensburg, konstruksiebeheer-bestuurder by Haw & Inglis siviele ingenieurs, is die duikweg in die binnekant omtrent 2m breed en 2,8m hoog, met die oostelike uitgang wat 30m binne die skoolterrein eindig.
Die westelike ingang word geplavei vir omtrent 700 meter na Hermon se kant toe, met ook ’n geplaveide stapgedeelte suidwaarts tot by die leerlooiery by Wellington.
Veiligheidshekke word weerskante van die duikweg aangebring, wat die gebruik daarvan streng beperk tot slegs leerlinge, ouers en besoekers aan die skool.
“Soetendal Kliniek, wat langs die skool lê, sal ook baat vind daarby deurdat pasiënte die duikweg op kliniekdae sal gebruik,” het Lategan gesê.
“Ek het nie vertoë gerig vir die bou van ’n duikweg vir die skool nie,” sê Lategan. “Ek het wel vele vertoë gerig aan die Wes-Kaapse Departement van Onderwys en die Provinsiale Padowerhede onder wie se jurisdiksie die pad val en wou pad-flikkerligte hê.
“Dit moes motoriste dwing om hul spoed by die skool te verminder.
“Dis nie toegestaan nie, maar Provinsie was bereid om borde aan te bring.”
Vir die afgelope drie jaar het verkeerskonstabels om 07:45 soggens en teen 14:00 smiddae, gereeld diens kom doen om leerlinge veilig oor die besige pad te neem. Dié maatreël het volgens hom goed gewerk.
Hy sê dat hy daarom verbaas was toe ’n padingenieur met die aanvang van opgraderingswerke aan die pad hom uit die bloute kom meedeel het dat die skool ’n duikweg gaan kry. Die bou van die duikweg het deel gevorm van die totale opgraderingswerke aan die R44.
Die skool, wat 23 plase se kinders weerskante van die pad bedien, het 310 leerders, nege leerkragte en ’n opsigter.
Die behoefte aan ’n duikweg is groot ,want omtrent 70% van die kinders gaan daarvan gebruik maak omdat die meerderheid plase aan die westekant van die skool lê.
Soetendal is ’n kerkskool van Wagenmakersvallei VGK, daarom moes toestemming van die kerkraad en ds Hadley du Plessis verkry word vir die bou van die duikweg tot binne die skoolgrond.
Lategan het gesê dat hy slegs maksimum veiligheid van leerlinge met minimale skoolgrond gebruik as voorwaarde gestel het.
Met uitbreidings by die skool is die duikweg baie welkom. Volgens Lategan is die leergange vir grade 8 en 9 reeds deur die Departement van Onderwys goedgekeur met implementering van graad 8 hopelik aan die begin van 2009.
’n Graad R-klas van 25 leerlinge begin ook volgende jaar.
* A subway is being constructed under the R44 outside Wellington, to ensure safe crossing by the pupils of Soetendal Primary.
More
News
|