Stephen Snyman: 'n tweede kans op lewe
2006-12-14
DIE stryd teen MIV/Vigs in Drakenstein, en veral die rol van die kerk hierin, het die afgelope jare sinoniem geword met ds Stephen Snyman, leraar van Calvyns Protestantse Kerk in die Paarl.
Die man met die breë glimlag en die besondere passie en empatie vir almal het diep in die harte van mense oor ’n breë spektrum gekruip.
Dit was dus ’n skok vir ’n groot groep mense toe dit vroeër vanjaar gelyk het asof ’n siekte wat hom reeds etlike jare teister, dalk ’n einde aan sy aardse bestaan kon maak.
Snyman het in 2001 siek geword en die jaar daarna is hy gediagnoseer met Myastinia Gravis, ’n neuro-muskulêre siekte.
“Die woord ‘gravis’ dui daarop dat dit ’n terminale siekte is, maar met die vordering op mediese gebied kan die toestand deesdae beheer word,” verduidelik Stephen.
Die siekte veroorsaak dat boodskappe van die brein na willekeurige spiere nie oorgedra word nie. Die wit bloedselle reageer op die nie-oordraging en begin spiere aanval.
Stephen vertel dat hy gedurig moeg was en dat sy mobiliteit aangetas was.
“My spiere was so aangetas dat ek soms in die oggende nie my oë kon oopmaak nie.
“Dit was soms ’n krisis - my diafragmaspier sou skielik nie werk nie, of my slukspier, of my tong was dik en ek kon nie praat nie.”
Stephen vertel dat hy uiters gefrustreerd was: “Ek was gekonfronteer met die vraag, wie is ek, wat gaan ek doen?”
Hy het dit oorweeg om te bedank, maar het dit weer teruggetrek: “Ek het besef dit sal my nie baat nie. Ek het ook geweet my geloof sal my deurdra.
“Ek het besluit om die siekte te gryp waar hy nie kan byt nie, om te wys wie is in beheer.”
Min mense het besef wat met hom verkeerd is en dit het dikwels tot misverstande gelei.
“Ek het geleer om blymoedig te wees, maar dit was nie maklik nie. Veral toe my gesigspiere geaffekteer is en ek nie meer breed kon glimlag nie. Ek het maar probeer, al het dit my baie moeg gemaak.”
Stephen vertel dat die siekte ’n plato bereik het tot vroeër vanjaar, toe daar skielik ’n krisis was.
“Ek het gereeld snags wakker geskrik en dan is ek sonder asem.”
Sy nekspiere het ook sy kop vorentoe laat sak. “Ek het begin waggel en was gedwing om ’n kierie aan te skaf."
Op hierdie stadium het hy soggens 22 pille gedrink en nog tien deur die loop van die dag.
“Ek het net nie meer krag gehad om te veg nie.”
En toe tref die groot slag vir hom, en die gemeenskap: “Ek moes my Woensdagoggendprogram op Radio KC opgee, my groot stokperdjie en passie.”
Hy vertel van al die gebede en oproepe wat in dié tyd vir hom opgegaan het.
“Dit was regtig ’n toets vir my geloof. My omstandighede het bly versleg en met ’n besoek aan Tygerberg Hospitaal is ek opgeneem.”
Hy vertel dat pastoor Graham Taff onder die talle mense was wat hom kom besoek het en vir hom gebid het. Vadersdag is hy vir die dag huis toe, maar die aand moes hy weer terug wees.
Maar dit is ook hier waar die keerpunt gekom het: “God het op Sy wonderlike wyse ’n wonderwerk gedoen. Toe het ek reeds geweet iets wonderliks het met my gebeur. Maandag toe die dokter my ondersoek, het hy net sy kop geskud.”
Hulle het gesê hy kan in remissie wees, of die siekte is uitgewoed, of hy is genees.
Hy is huis toe gestuur en drie weke later weer getoets. “Tot vandag het ek nooit weer enige simptome getoon nie en ek gebruik geen medikasie nie.
“Ek glo ek is genees en ek dank die Here.”
Stephen vertel hoe sy vrou, Melenie, vir hom ’n steunpilaar was in die tyd wat hy siek was.
“My seuns, Stephen-John en Matthew-Allistair, was ook later so ingestel op my - hulle het my opgehelp by trappe en selfs die bult van die kerk af vir my ondersteun.
“Ek het gedurig met hulle gepraat en hulle voorberei op die moontlikheid dat ek kon sterf.”
Hy vertel dankbaar van die hulp wat hy en sy gesin van die kerkraad en gemeenskap ontvang het.
“Mense wat ek nooit voorheen geken het nie, het na vore gekom en gehelp, ook met die hospitaalrekening.
“Ek het werklik gesien dat wat jy maai, sal jy saai. Ek het baie keer trane in my oë gekry as daar ’n klop aan die deur is en dit is weer iemand wat ons kom seën.
“Ek kyk nou met nuwe oë na die lewe. Hierdie is werklik ’n tweede kans vir my...”
Nou is hy weer gesond en vol energie - lus vir die lewe, hoewel hy dit ’n bietjie rustiger moet vat.
Stephen, wat in Ravensmead grootgeword het, is aanvanklik sonder enige probleem gekeur om teologie te gaan studeer.
Hy het egter skaars by UWK begin toe hy voor ’n keuse gestel word: gaan oor VGK toe, anders kan jy nie ’n beurs kry nie.
“Ek kon dit nie doen nie,” vertel hy vandag kalm, maar tog met ’n stukkie hartseer in sy oë.
Hy vertel hoe hy al die pad huis toe gestap het om sy ouers met die slegte nuus te gaan konfronteer. Hulle was nie in staat om hom finansieel te ondersteun met sy studies nie en ten einde raad het hy ’n onderwysbeurs bekom.
Onderwys was nie waar sy hart gelê het nie en dit het maar hakerig gegaan.
Kort voor lank het hy ook by die Calvynse Kerk se seminarie ingeskryf en teen die tyd wat hy twee jaar in die onderwys gestaan het, het hy sy praktiese jaar teologie voltooi en voltyds bediening toe gegaan.
Sy eerste gemeente was op Buffelsrivier in die Namakwaland, 46 km wes van Springbok.
Stephen besoek die dorp nog gereeld. Toe hy in Mei vanjaar siek geword het, was dit een van die plekke wat hy besoek het en “met die Here gaan gesels het tussen die klipkoppies”.
Stephen het later ’n beroep aanvaar na Sarepta in Kuilsrivier, voordat hy in 2000 onder moeilike omstandighede in die Paarl oorgeneem het.
“Ons moes gemeente bou, verhoudings herstel, leer om op ’n Christelike wyse mekaar te vergewe.
“Maar ons het gegroei, van ’n binnegekeerde gemeente na een wat na buite gekeer is.
“Dit was ’n wonderlike ding. Die kerkraad het besef my hart is ruim genoeg ook vir die gemeenskap, nie net die gemeente nie.
“Ek het hulle gevra, laat my toe om Stephen Snyman te wees. Ek sal my beste doen en julle nie in die skande bring nie.”
Vandag is Stephen en sy gemeente betrokke by talle organisasies: Ligstraal Skool, Hospice, Ikhwezi, Rusthof ouetehuis, Allandale-gevangenis, Kindersorg, Luthando en ander vigsverwante organisasies.
“Dit is lekker om te sien hoe gemeentelede betrokke raak. Mense moet meer as banksitters wees.
“Die kerkmure is so wyd as wat lidmate daardie week beweeg met die boodskap wat hulle ontvang het.”
Stephen vertel hoe daar in 2003 met ’n Vigs-aksiegroep begin is. Vandag staan dit bekend as M-Sat en word deur die munisipaliteit beheer.
“Ek is nog steeds die sameroeper van die aksiegroep wat daarop gerig is om mense in te lig, die stig-ma af te breek en ander groepe te ondersteun met advies, persoonlike betrokkenheid of finansieel.”
Hy en sy bestuur verwelkom vrywilligers met ’n passie vir mense wat geaffekteer en geïnfekteer is deur MIV/Vigs.
Stephen is ’n trusteelid van Calgo, ’n nuwe gemeenskapsontwikkelingsorganisasie van die Calvynse kerk wat kyk na die opheffing van mense.
Hy beplan ook om volgende jaar verder te studeer om ’n meestersgraad in pastorale sielkunde te voltooi, veral pastorale berading aan jong kinders wat aan Vigs ly.
Daarna wil hy in pastorale teologie studeer.
In Drakenstein, het Stephen ’n visie van ’n verenigde gemeenskap.
“Op die oomblik is ons ’n grootliks verdeelde gemeenskap - verdeel in rassegroepe, klassegroepe. Ek sal graag wil sien dat daar werklik harmonie in ons dorp kom.
“Ek sal ook graag wil sien dat predikante nie ter wille van eie gemeentes ’n persoonlike koninkryk oprig nie, maar strewe om ons gemeenskap op te hef.
“Ons moet daadwerklik werk vir die heropbou van die siel van ons mense.”
* A Paarl minister has been miraculously cured of a terminal disease.
More
News
|