Treindrywer vry, slagoffers treur nog
2006-12-14
DIE dag toe Patrick Ruiters van Wellington gesê het “Bye Mummy, ek stap nou”, het sy ma nooit kon dink sy sou haar jongste nie weer lewend sien nie.
Patrick was een van tien pendelaars, op twee na almal van Wellington, wat op 7 Januarie 2003 gesterf het toe die 16:08 sneltrein uit Kaapstad teen ’n stilstaande goederetrein by Muldersvlei gebots het.
“Ek onthou so goed hoe ek geantwoord het, “Totsiens Pat, lekker dag. En toe kom hy nie weer terug nie.
Ek sukkel tot vandag toe. Die dood was net te skielik,” vertel ’n hartseer Jennifer Ruiters in haar woning in Powellstraat.
“Dis nou amper vier jaar. Volgende maand die sewende was die ongeluk - net tien dae na Pat se 21ste verjaardag.”
Verlede week is Mervyne Matthee (59), ook van Wellington, op die aanklag van strafbare manslag vrygespreek.
Sy advokaat, John van den Berg, het die hof oortuig dat nalatigheid nie teen die drywer bewys kon word nie.
Matthee was tydens die ongeluk onder sielkundige en mediese behandeling ná die dood van sy vrou.
Die regsman het wel in die hof die pendelaars se gevoel in 2003, dat die instandhouding van die 40-jarige treinwaens nie voldoende was nie, beaam.
Die pendelaars wat gesterf het, het in ’n wa gereis waarvan die vloer met die slag meegegee het.
“Nou met die onlangse treinongeluk waar die mense van Klapmuts dood is, was ek weer so hartseer.
“Ek het altyd vir die Here gevra om my net te spaar dat my kinders lidmate word, en hul mondigwording kan vier.
"Hy het na my geluister, maar toe is my jongste voor my weggeneem. Ek praat nog elke dag met Pat in sy foto, en dan huil ek,” het Jennifer ná die hofuitspraak gesê.
“Nou sê daardie man hy kan lekker gaan vakansie hou - die swart wolk is nou weg oor hom.
“Ek wonder of hy nou gaan kom sê hy is jammer vir ons. Dit sou so ’n troos gewees het die afgelope jare.
“Ek weet ons uur is vir ons uitgesit, maar dit bly nie maklik vir my nie.” - Malané Bosman
More
News
|