Sprokiesland verlig in Weltevrede
2006-12-14
AS die son snags agter Paarlberg sak, is daar ’n klein hoekie van die vallei wat in ’n sprokiesland omskep word.
’n Familie van Weltevrede het hul tuin in ’n sprokiesland omskep om die hele buurt met die Kersgees te inspireer.
Snags staan die motors tou in Amandellaan wanneer talle mense in verwondering daarheen stroom om na dié tuin te gaan kyk.
Hierdie sprokiesland is die skepping van Brian Fortuin wat reeds verlede jaar met die aankoop van Kersliggies begin het.
“Ek het reeds ’n geruime tyd gelede heelwat tuine in Kaapstad gesien wat tydens Kerstyd versier is met liggies.
“In die Drakenstein-gebied is dit min dat jy sulke fraai liggies in ’n tuin sien en ek het besluit om voor in die ry te staan met die mooiste Kerstuin.
“Die gogga het gebyt en bykans 20 000 liggies later, wat vir my duisende rande uit die sak gejaag het, het my droom bewaarheid geword, en ek is oortuig dat ek die mooiste Kerstuin in die gebied het.”
Fortuin se tuin het vanjaar so mooi gelyk dat sy vriende vir hom aangespoor het om in te skryf vir Game se ‘Big Switch-On’ kompetisie.
Tydens die kompetisie word honderde Kerstuine dwarsoor die Wes-Kaap beoordeel. Fortuin se besonderse tuin in Weltevrede het vanjaar algeheel vierde geëindig.
“Ek is baie trots dat ek hierdeur vereer is, maar dit is nie die doel van my harde werk nie.
“Daar is baie armoede in dié gebied en talle mense kan nie eers bekostig om ’n klein Kersboom te koop nie.
“My tuin staan dus oop vir almal wat die Kersgees wil beleef.”
Fortuin het selfs verder gegaan en begin om Kersgeskenkies bymekaar te maak om Kersaand aan minderbevoorregte mense uit te deel.
“Kersfees is ’n tyd van gee en al kan ek net vir my gemeenskap die plesier gee om na my mooi tuin te kom kyk, dan is dit reeds vir my ’n reuse Kersgeskenk.”
More
News
|