Vyftig gelukkige jare
2006-12-20
IN Bainstraat 57 op Wellington bly Edith en John Stephenson op die werf waar Edith se oupa Basie Rossouw jare gelede die eerste drukpers op Wellington gehad het. Van die eerste Paarl Poste is daar gedruk.
Edith en John het elf jaar gelede vanaf Constantia verhuis en begin om die ou opstal en buitegeboue te restoureer en in woonhuise te omskep.
Edith is ’n borrelende, entoesiastiese mens wat groot plesier in die restourasieproses het.
Haar jongste toevoeging is Oupa Rossouw se waterfrontjie - ’n koel skaduplekkie langs die Spruitrivier, die westelike grens van Onze Werf.
Onze Werf bestaan verder uit ’n woonhuis en verskeie buitegeboue: die skuurtjie, die twee gewels, die stoephuisie, die smidswinkel, Oupa se opstal, die stalle, Ouma se buitekamer, die kinderkamer. Edith en John woon vandag in ‘oupa se stalle’.
Edith en John se huis is vol betekenisvolle inhoud. Teen die muur, met die inkom aan die regterhand, hang foto’s van voorgeslagte teen die muur, ook die formidabele figuur van Oupa Basie Rossouw. Oupa Rossouw het destyds ’n Hugenote Seminary-meisie wat vir onderwyseres geleer het vir hom gevat, vertel Edith. Hy het later Namakwaland toe getrek om daar met diamante te spekuleer. Edith self is dáár gebore.
Agter in die digbegroeide werfie is interessante lewende hawe.
Reusagtige, kleurvolle Khoivisse met Bybelse name swem in die poel vlakby die gesellige sitplek, Edith praat deurentyd met hulle, roep hulle by die naam, kommunikeer strelend en intiem soos met eie kinders: Kom maar Abraham en Izak, Simson en Delila, kom nou maar na Mammatjie toe!
’n Stywe-beenskilpad, Conrad gedoop, kom aangestap, byt jou aan die tone en volg daarna vir John soos ’n skaduwee. Sy maat Cailey skuil iewers onder die struike.
Edith was vroeër jare verhoogkunstenaar vir die destydse Kaapse Amateur Toneelvereniging waar sy met groot name soos Robert Moore, Babs Laker en Joey de Koker saamgewerk het. Sy het ook uitsaaiwerk saam met bekendes soos Ken Swart gedoen.
John is haar steunpilaar, haar regterhand, sê Edith, haar ‘quick fixer’-ingenieurman, die knaphandige een wat ’n sleutelrol in die restourasieproses van die ou werf gespeel het en steeds speel. Die een met wie sy avonture in Afrika op deel. Die jongste tyd ook Sao Tomé, die gewese Portugese eiland aan die weskus van Afrika waar John waardevolle ingenieursdienste lewer. Haar 72ste verjaardag het hulle op ’n kameel se rug in Tunisië gevier.
Vrydag vier Edith en John hulle vyftigste troudag feestelik met ’n ontbyt by ’n bekende restaurant. Hulle sal omring wees met vriende en familie, hulle dogter, seun en kleinkinders.
More
News
|