Wellington groet oud-raadslid
2007-01-11
DIE skielike dood van gewese stadsraadslid Anna Langeveldt (66) na ‘n kort siekbed het die gemeenskap van Wellington in rou gedompel.
Langeveldt, of Antie Pay soos sy deur almal op die dorp geken was, was ‘n vuurvreter-politikus op Wellington en in die Boland.
Sy was al die jare van haar politieke lewe die hoof-verteenwoordiger van die Wellington ANC op politieke saamtrekke en is geag vir haar integriteit.
Sy is gebore en het skoolgegaan op Saron. Sy het later op Wellington gewerk by Wellington Industries, waar sy haar man Jaftha Langeveldt ontmoet het.
Sy was sedert die nuwe bedeling in 1994 betrokke by die oorgangsraad en het elf jaar diens gedoen as raadslid vir Wellington, totdat sy in die laaste munisipale verkiesing tot haar teleurstelling deur ‘n ID-raadslid verslaan is.
Sy was ‘n `kanniedood’-vegter wat soms haar stem verloor het in haar vasberade veldtogte vir stemme vir die ANC.
Volgens raadslid Caudillo Du Plessis het sy nog op haar sterfbed gepraat van die twee konferensies van die ANC in 2007.
Sy was ook betrokke by netbal-administrasie by Westerlies-klub, by die vakbond SACTWU en die Civics asook by die Kerk van die Nasarene.
Die begrafnis is Saterdag 10:00 by die huis te Dreydenstraat 85 en 11:00 by die Breakthru Community Centre in Klaassenstraat, Hillcrest.
Sy laat benewens haar eggenoot ook vier kinders agter - David en Noel van der Ventel, Allison Cupido en Joanne Williams - asook nege kleinkinders en een agterkleinkind.
More
News
|