Bekende leraar ter ruste
2007-01-11
DIE bekende en geliefde Paarlse leraar, dr Matie Brink, is enkele dae voor Kersfees en enkele dae na sy 61ste verjaarsdag dood na ’n lang siekte.
Brink het op 22 Desember saam met sy vrou, Cheryl, na Mbekweni gery om skape te gaan aflaai toe hy verskeie kere flou geword het.
Cheryl, wat agter die stuur was, het met hom na die Paarl Medi-Clinic gejaag, maar met hul aankoms was Brink reeds aan ’n hartaanval dood.
Hy het in Oktober 2005 na 32 jaar as leraar van die Toringkerk afgetree, juis weens sy gesondheidsprobleme.
Brink is as een van ’n tweeling op 18 Desember 1945 gebore in Gansbaai. Sy pa, sowel as sy oupa, was predikante en hy het in hul voetspore gevolg.
Na sy studies by die Universiteit van Stellenbosch was hy leraar op Ladysmith, waarna hy deur die Toringkerk beroep is.
Behalwe vir die kerk was sy groot liefde die voorbereiding van geregte, en dit het gelei tot verskeie boeke oor potjiekos waarvoor hy landwyd bekendheid verwerf het.
’n Goeie vriend van Brink en mede-koskenner, Andries Krogmann, het gesê dat alhoewel Brink ’n hoogs opgevoede leraar was, het hy steeds plat op die aarde gebly en diep omgegee vir sy medemens.
“Hy was ook ’n ewige optimis wat telkemale die lig aan die einde van die tonnel gesien het, terwyl ander om hom wanhopig was.
“Sy dood laat ’n leemte in almal se lewens wat hom geken het.” Brink word oorleef deur sy vrou, drie dogters, Cheryl-Marie Moore, Liezel McCulloch en Martelize Brink, seuns Walter en Phillip, asook vyf kleinkinders.
’n Gedenkdiens is eergister in 'n stampvol Toringkerk gehou, gelei deur ds Carel Lotz.
* Well-known Paarl pastor, Dr Matie Brink, has died after a long illness.
More
News
|