Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Egpaar swoeg saam aan matriek

Egpaar swoeg saam aan matriek
 
2007-01-18


SUKSES smaak soet, soveel te meer wanneer man en vrou saam matriek slaag dertig jaar nadat hulle skool verlaat het.

Dis die geval met Valan en Belinda Valentine van Mendelssohnstraat in Groenheuwel.

Hulle het albei verlede jaar vir ses matriekvakke ingeskryf by Dalweide eksamensentrum én almal geslaag. Daarvan getuig hul uitslagadviesdokumente wat hulle trots wys.

Nou moet die matrieksertifikate net nog kom sodat hulle dit kan raam.

“Ek wil hierdie jaar graag verder studeer om ’n swart taal soos Xhosa te bemagtig,” sê Valan.

Hy moedig veral die kinders van vandag aan om die geleenthede te benut om klaar te studeer.

“Ons het min geleenthede in die verlede gehad en as jy jou kans verspeel het, dan was dit neusie verby.

“Ek het my tweede kans eers 34 jaar later gekry om my matriek te voltooi. Miskien dien ons poging as aanmoediging vir ander,” sê hy.

Belinda, verkoopsdame by ’n plaaslike meubelwinkel, sê dat sy graag in die toekoms Menslike Hulpbronne wil studeer.

“Dit sal egter alles afhang van ons geldelike posisie want intussen moet die jongste seun Bevan, eers sy studies klaarmaak sodat hy agterna weer kan help. Hy is tans ’n derde jaar BRek-student aan die Universiteit van Stellenbosch.”

Belinda het in die sewentigerjare by Noorder- Paarl Hoër skoolgegaan en gevorder tot standerd agt. Valan het in Genadendal by Emil Weder skoolgegaan en standerd nege klaargemaak. Weens omstandighede het hulle albei egter nie matriek voltooi nie.

Die egpaar is in 1981 getroud en het drie kinders. Valan het voorheen gewerk by Statistiek Suid- Afrika. Begin verlede jaar het hulle besluit om saam klas te loop by Wellington Volwasse Onderrigsentrum se Dalweide-tak.

Slegs Afrikaans Hoër, Aardrykskunde en Ekonomie is hier aangebied en hulle het besluit om in Engels, Biologie en Geskiedenis private klasse te volg, sodat hulle vir al ses vakke die matriekeksamen kon skryf.

Dit het broekskeur met die studies gegaan, want hulle het gewerk en geen studieverlof gehad nie.

Tussen die huishoudelike pligte deur het hulle notas uitgeruil wanneer die een nie klas kon bywoon nie, saam gestudeer en mekaar gemotiveer.

“Ons was meer opgewonde as angstig om eksamen te gaan skryf, want ’n mens het nou mos ’n meer volwasse uitkyk daarop,” sê Belinda.

“Ons het baie aanmoediging van die kinders gekry én van die drie onderwysers by die aandskool en is baie dankbaar teenoor hulle.

“Ons sê ook dankie aan skoliere Martin Arendse en Lizaan Willemse vir hulle notas, hulp, raad en vraestelle wat hulle beskikbaar gestel het.”

* A Paarl couple passed matric together with the help of night classes thirty years after leaving school.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za