Leerkrag sterf in motorongeluk
2007-01-25
David Joshua
’n OPVOEDER by Sonop Primêr in Klein Drakenstein, Juliana Davids (46) van Bothmastraat 22, Paarl-Oos het Vrydagaand in ’n motorongeluk gesterf naby die Tygervallei-afrit op die N1.
’n Buiteband het vermoedelik gebars. Drie ander vroue, Maureen Martin (kollega), Carol Truter en Sandra Sampson (oud-kollegas), was insittendes en het ligte beserings opgedoen.
Aldrie is na behandeling oor die naweek uit die hospitaal ontslaan en sterk tans by die huis aan.
Skoolhoof Gregory Lawrence, kollegas en leerders by die skool is stomgeslaan oor Davids se skielike dood.
“Ons gaan moeilik sonder haar klaarkom en gaan haar mis, want sy was ’n regte steunpilaar wat altyd betrokke was by die skool se aktiwiteite.
“Sy het 27 jaar diens gehad, was altyd behulpsaam en hardwerkend. Sy het ’n voorliefde vir mini-rugby en -krieket gehad.”
Davids wat besig was met studie vir haar M.Ed-graad by CPUT in Wellington, was ongetroud en laat haar ma, drie susters en ’n broer agter.
Die begrafnis is Saterdag met die huisdiens in Bothmastraat 22 om 09:00 en om 10:00 by die Huguenot VGK Kerk (Strauss-saal) in Klein Drakensteinweg.
More
News
|