Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Matie Brink en die 'Kommunistiese' karre

Matie Brink en die 'Kommunistiese' karre
 
2007-01-25

Hans Heese

DIE lesers wat oud genoeg is om Matie Brink en ook sy pa, ds Pam Brink, te geken het, sal weet dat die appel nie ver van die boom af geval het nie!

My paaie het in 1963 met albei van hulle s’n gekruis toe ek in die Strand ingewoon het en Matie sy eerste jaar op Stellenbosch begin het.

Ek het ’n vak of wat herhaal en het dus saam met Matie ’n paar universiteitsklasse gemeenskaplik gevolg.

Ons vriendskap het ontstaan toe Matie 'n bestuurderlisensie gekry het en met een van sy pa se (drie) Wartburgs daagliks tussen die Strand en Stellenbosch gependel het.

Later het ons selfs so ver as Calvinia met die Wartburg by meisies gaan kuier!

Die Wartburg was ’n navolger van die 3-silinder DKW wat net voor die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog in Zwickau ontwikkel is.

Produksie het in 1956 in Eisenach in die voor-oorlogse BMW-motorfabriek in die kommunistiese Oos-Duitsland begin en het die spitstegnologie van die Oos-Blok verteenwoordig.

In Augustus 1957 is die eerste vierdeur sedans plaaslik bemark en is daar in die paar maande tot die einde van die jaar 149 motors
geregistreer.

Die Wartburg, wat £724 (R1448) gekos het, was dikwels verwar met die amper eenders-klinkende Borgward (Isabella) wat met sy twee deure net so onder die £800 gekos het.

Dit was eers na afloop van die transaksie dat party mense hulle fout agtergekom het!

En dit was nogal ’n duur fout; die Wartburgs was nie bekend as die mees betroubare motors op die pad nie en die tweedehandse waarde was maar laag.

So is ’n baie elegante en indrukwekkende 1959 Wartburg sport coupé, wat nogal baie na die Mercedes-Benz SL gelyk het en £1433, gekos het, die volgende jaar vir £695 geadverteer - en dit vir ’n motor wat net 8000 km afgelê het!

Dit was seker die feit dat hulle tweedehands vir ’n appel en ’n ei opgetel kon word, wat ds Pam Brink laat besluit het om weg te beweeg van sy geliefde Peugeot 203 en 403 stasiewaens waarmee
hy vroeër in Tanzanië gery het en waarin al die Brink kinders
grootgeword het.

En Pam Brink het daarvan gehou om aan motors te werk en nie sodanig omgegee of hulle betroubaar was of nie!

(Een van die legendes rondom ds Pam Brink was dat as die Peugeot-agente in Oos-Afrika nie ’n Peugeot kon herstel nie; hulle die motor pastorie toe gebring het om weer aan die gang te kry).

Matie het die Wartburgs deeglik en hard gery en ek het menige keer geglo dat ons nie op die pad gaan bly as hy draaie teen amper kranksinnige snelhede geneem het nie.

Dit was daar waar ek respek gekry het vir ’n relatief swaar motor met ’n baie stywe suspensie en ’n lae swaartekrag.

En miskien het die Liewe Here besluit om maar ’n paar ekstra engele aan te stel om Matie ’n kans te gee om eers klaar te leer vir predikant.

Die Brinks het ’n paar dinge met die Wartburgs gedoen.

Die snelheidsmeter was in km/h afgemerk. Na ’n bietjie eksperimentering het hulle ’n veertjie vervang met ’n stywer een en het hy naastenby ’n myl per uur lesing gegee!

Verder is daar by ons studente funksies met die linkerhandstuurmodel gery om ‘styl’ aan die geleentheid te gee.

(Die linkerhandstuurmodelle was nuut R100 goedkoper as die regterhandstuur-modelle).

En onder die enjinkap het ’n DKW-enjin later die onbetroubare Wartburg-enjin vervang!

Iewers het ek nog ’n kleurskyfie van my Voortrekkerspan by Matie se blou Wartburg waar hy ons op ’n staptoer in Jonkershoek afgelaai het.

Ek wonder net wat die partyleiers in Moskou sou gesê het as hulle dit gesien het!



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za