Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Goeie stokers is maer

Goeie stokers is maer
 
2007-01-25

Malané Bosman

VIR Duncan Koewn het die lewe ná die era van stoomtreine groot verander. Hy is nie meer so maer soos elke goeie stoker behoort te wees nie, maar hy stoom voort op Wellington.

Duncan het in 1968 as leerlingstoker in Paardeneiland aangetree. Hy het nou die dag gaan kyk, die sinkhokkie waar hy klas geloop het, staan nog tussen ’n versameling skeepshouers.

Duncan (54) is in die Kaap gebore, een van agt kinders.

“Daar was nie genade vir verder leer nie, en toe ek my kom kry, toe is ek ’n stoker, maar ek is nie een dag spyt nie.”

Van 1969 het hy op die Malmesbury-Klawer lyn gestook. In ses jaar het hy 25 200 ton kole met ’n graaf gewerk - dis 46 treinvragte, of dan 414 trokke steenkool.

Een graaf hou sowat ’n jaar, dan is hy opgewerk.

Toe Duncan in 2000 bedank het en eienaar van Bell’s Inn in Wellington geword het, het sy laaste SAR graaf saam met hom
gegaan.

“Daardie jare was die lekkerste tyd van my lewe, al was dit nie
kinderspeletjies nie. As die stoker nie kan byhou nie, kan die trein nie gedrywe word nie.

“Ons het 16 uur aanmekaar gewerk en dit was tot 56 grade C voor die vuur. Die sweet het ons koel gehou. Ek was so maer soos ’n graat,” vertel Duncan.

Vir meer as elf jaar het Duncan gestook, van die Kaap, Bitterfontein, tot in Pretoria op die destydse Lourenzo Marques en Thabazimbi.

Hy vertel hoe daar water vir tee in ’n blikkie gekook is - net ’n paar sekondes in die vuur.

“Ek drink vandag nog tee, want dit koel ’n mens af. Destyds het hy ook twee watersakke wat teen die trein vasgemaak is om koel te bly, leeggedrink op ’n dag. En soutpille gesluk.

“Al die goeie stokers is maer. Die drywers is dikker.”

Daar is kos gemaak op die voetplaat - en Duncan erken dat daar soms ’n skapie in die verbygaan gevang is, en ’n wyntjie uit ’n wyntenk langs die pad getap is.

Later was daar meganiese stokers. En nog later moes hy van stoom oorslaan na diesel en toe elektriese lokomotiewe - as drywer.

Vandag ry hy agter stoomenjins aan, maar almal staan.

“Dis hartseer,” sê Duncan. “Maar daardie era is verby.”

Hy het darem nog sy herinneringe, sy laaste graaf, en sy 136 boeke oor stoomenjins.

En dan ry hy fiets, vroeër jare tot in Nelspruit, Lesotho, Durban, 12 dae tot in Upington. Die Cederberg het hy platgery.

Nou nog ry Duncan tot vier keer ’n week Bainskloof uit.

En hy stap. Hy speel muurbal. Ry toeriste rond. Hy doen tuine, pas mense se huise en hul honde op.

Hy drink al 21 jaar lank nie ’n druppel alkohol nie. Dit, en om altyd self in sy restaurant/kroeg te wees, is die resep vir sy sukses, sê Duncan.

Vir Wellington se hitte skrik hy nie. Hy kry dan glad koud in Kaapstad.

En so praat Duncan met die blinkblou oë, so sonder briek aandraai, soos ’n man van wie die stoom nooit sal opraak nie.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za