Groot planne met park
2007-02-01
WELLINGTONNERS wat met idees speel oor hoe om Victoriapark in die middedorp in ‘n toeriste-fokuspunt te ontwikkel, kry tans die geleentheid om insette te lewer oor hoe om dié groen ruimte meer gebruikersvriendelik te maak.
Die Verfraaiingskomitee van Wellington en die Parkedepartement van die Drakensteinse Munisipaliteit wil Victoriapark omskep in ‘n kleurvolle lushof wat inpas by die sentrale en historiese kern van die dorp.
Inwoners en instansies van Wellington word daarom uitgenooi om insette te lewer oor hoe om gedeeltes van die park of die hele ruimte te gebruik.
Enige planne wat deurgevoer word, is egter onderhewig aan die verkryging van die nodige befondsing.
Volgens Charl Tomlinson van die Verfraaiingskomitee word opinies omtrent die voorsiening van parkering vir besoekers en toeriste-busse in die park verwelkom, sowel as idees om “lewe in die park te kry”.
Volgens Die Geskiedenis van Wellington en Distrik tot 2000, wat by die Wellington Museum en die Van Riebeeckstraat-biblioteek bestudeer kan word, was die park ‘n eeu gelede ‘n lewendige bymekaarkomplek. Blaasokreste het onder meer gereeld daar opgetree.
Daar was ook ‘n fontein in die een hoek aan Fonteinstraat se kant, wat later drooggelê is.
Volgens Tomlinson sal alle voorstelle oorweeg word, “maar nie noodwendig aanvaar word nie”. Voorstelle, verkieslik vergesel van ‘n skets, moet gestuur word aan die Sekretaris, Proteastraat 20, Wellington 7655 teen 21 Maart.
More
News
|