Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


40 jaar gewy aan 'stokperdjie'

40 jaar gewy aan 'stokperdjie'
 
2007-02-01

Susan Botha

“DAMES en here, ek vra u aandag vir haar agbare, die burgemeester van Drakenstein, raadslid Charmaine Manuel."

Met hierdie sinsnede het Hertius Carstens vir bykans 40 jaar altesame 14 plaaslike burgemeesters by funksies voorgestel.

Vandeesweek is daar afskeid geneem van hierdie senior munisipale amptenaar, op ’n maand na veertig jaar in munisipale diens - eers van Paarl en later van Drakenstein.

Carstens het op 1 Maart 1967 as klerk onder adv Willie Wagenaar (stadsklerk) begin werk. Destyds was die kantore nog in die Paarlse stadsaal-gebou en Alfred King was burgemeester.

Oor die jare het Carstens politieke partye, burgemeesters, raadslede (178), stadsklerke/munisipale bestuurders, departementshoofde en amptenare sien kom en gaan.

Hy het as sekretaris opgetree vir 14 burgemeesters en het onder ses stadsklerke/munisipale bestuurders gewerk.

In al dié tyd was hy net een dag afwesig met siekverlof.
Carstens het aanvanklik as komiteeklerk en administratiewe beheeramptenaar verskeie komitees bedien: Kleurling- en Bantoesake, gesondheid, handelsdienste, beplanning & behuising, asook geldsake & algemene doeleindes.

Sedert 1994 was hy boonop munisipale verkiesingsbeampte.

Vra wat vir hom uitstaan in die afgelope 40 jaar, en hy antwoord dadelik: “Die woorde wat oud-president Mandela vir my die dag na afloop van sy ereburgerskap van die Paarl in Afrikaans vir my gesê het, ‘Dankie ou seun, jy het die dag mooi gereël. Dit was lekker’.

“Daar was ander hoogtepunte, soos die Republiekfees in 1961, die inwyding van die Taalmonument in 1976, die ereburgerskap van PW
Botha en Tommy Siebritz en ook Nana Abrahams, asook die besoek van die Hertog van Wellington.”

Hy het afgesluit met ’n oproep aan die burgemeester en raadslede: “Ons het geveg vir vryheid en dit gekry, só glo baie mense.

“Ek sê daar is politieke vryheid, maar dit is net ’n gedeelte daarvan. Ons sal eers volle vryheid hê die dag as daar nie meer armoede is, wanneer daar nie meer misdaad en moorde is nie.

“Dan kan al ons mense leef en werk in ’n land vol liefde en voorspoed.”

Burgemeester Charmaine Manuel het Carstens beskryf as iemand wat altyd opgeruimd is, altyd ’n grappie te vertel het en nooit buierig was nie.

Sy en oud-burgemeester Herman Bailey het hom bedank vir sy raad en bystand in die uitvoering van hulle pligte.

Albei het ook vertel dat hy ’n presiese mens was en ’n deeglike organiseerder, wat op die fynste puntjies gelet het.

Ook Courtney Samuels, die provinsiale hoof van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), het ook net lof vir Carstens gehad.

“Ek wil hom salueer as ’n groot seun van Suid-Afrika, ’n ware nasiebouer.”

Carstens en sy splinternuwe vrou, Lucinda, gaan hulle in Seepunt vestig, wat naby haar werk by die OVK is.

“Wat ek nou gaan doen weet ek nog nie, want ek het my werk my stokperdjie gemaak,” sê hy.

“Daar was ’n tyd dat die werk my so besig gehou het dat my kind, toe drie jaar oud, eendag gesê het, ‘As pappa weer vir ons kom kuier...’.

“Maar vandag is ek nie spyt dat ek my lewe vir die Munisipaliteit gegee het nie.”

* A senior mayoral official is retiring after 40 years’ service in Paarl and Drakenstein municipality..



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za