`Meisie' word nou gesond
2007-02-08
MEISIE se nooi was hierdie week in trane van dankbaarheid - want al is haar geliefde hondemaat oortrek van brandwonde, lewe sy.
Die nag toe die grootmense vir Shevan van Neel (9) uit hul brandende opslaanhuis in Bosbokstraat in Paarl-Oos gehelp het, het die vlamme vir Meisie (3) in die agterplaas vasgekeer.
“Sy was nie vasgemaak nie,” het Shevan se broer Duewan, vertel.
“Maar niks kon haar wegkry van die huis wat sy altyd so getrou opgepas het nie.
“Sy het selfs die brandweermanne aangeval en een raakgebyt.
Uiteindelik moes my pa terugdraai om haar uit te help.”
Dit was drie weke gelede, en eergister kon Meisie vir die eerste keer teruggaan huis toe.
“Die veearts het gesê ons moet eers vir ons Meisie ’n huisie bou. Ons eie huis is nou weer opgesit, en sy het haar eie groot hok waarin sy kan rondloop.”
Die Wellington Dierebeskermingsvereniging sal help dat die veeartsrekening vereffen word, en sal bydraes deur die publiek hoog op prys stel (skakel 021-864-3726 as u wil bydra).
More
News
|