Nuwe drankwet kry tande
2007-02-15
David Joshua
DIE nuwe Drankwet sal na goedkeuring deur die Parlement, aan veral die polisie ’n baie skerp instrument verleen om oortreders van die drankwet en sluikhandel in drank doeltreffend vas te vat.
So het Garth Strachan, voorsitter van die Wes-Kaapse Staande Komitee oor die regulering van die Drankwet, verlede week gesê by ’n sitting in die Paarlse stadsaal om die wetsontwerp te bespreek.
Die sitting is deur sowat 50 mense bygewoon.
Die wetsontwerp word einde Februarie in die Parlement voorgelê deur die provinsiale Minister van Omgewing, Beplanning en Ekonomiese Ontwikkeling, Tasneem Essop.
“Die plaaslike voorkoms van Fetale Alkoholsindroom is die hoogste in die wêreld en drankmisbruik deur veral plaaswerkers, tieners en vroue, is besig om endemiese vlakke aan te neem,” het Strachan gesê.
“Dit kos die land miljoene om die maatskaplike en gepaardgaande gewelddadige probleme aan te spreek en is iets wat ons daadwerklik voel. Ons moet ’n stop hieraan sit,” het hy tydens bespreking gesê.
Die wetsontwerp verleen aan die meer as 30 000 onwettige sjebeen-eienaars die geleentheid om wettig tot die drankhandel toe te tree en aan wettige voorskrifte en plaaslike regulasies in drankhandel te voldoen.
Aansoeke sal voortaan deur die Munisipaliteit hanteer word, met ’n aansoektydperk waartydens bure en ander belanghebbendes besware mag indien. Die afstand van skole en kerke word ook in ag geneem.
Die wet maak voorsiening dat oortreders aangekla kan word en met skuldigbevinding kan tronkstraf wat wissel van drie maande tot vyf jaar en boetes vanaf R100 000 tot R1 miljoen opgelê word.
Verder kan op provinsiale vlak beslag gelê word op alle drank en op nasionale vlak op alle bates wat die perseel, motors, huis en ander onroerende eiendom van skuldiges insluit.
’n Lid van die publiek, Patrick Poggenpoel, het die vrees uitgespreek dat wanneer sjebeen-eienaars aansoek sou doen om lisensiëring, die polisie op hulle sal toeslaan met die gepaardgaande blootstelling.
Raybin Windvogel, direkteur drankregulering van die Departement Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, het gereageer: “Die polisie weet in elk geval waar van die sjebeens is. Hulle kan egter nie optree teen aansoekers nie, want ’n vrystellingsperiode ná aansoek is van krag.”
“Dit gee ook sjebeen-eienaars die geleentheid om aan al die reëls en regulasies van hul plaaslike owerhede te voldoen. Natuurlik moet die polisie egter optree as sjebeen-eienaars hulle ophou met ander onwettige bedrywighede,” het hy gesê.
Sjebeen-eienaars kan egter ook om ’n verlenging vir die vrystellingstyd aansoek doen.
Windvogel het ook gesê dat die wetsontwerp sterk aksie wil neem om die bron en oorsprong van onwettige drank by te kom, want wettige drankkleinhandelaars voorsien onwettige sjebeens van drank.
’n Wynprodusent het die belangrikheid van die bevordering van toerisme in die streek beklemtoon, die groot kapitale belegging teenoor ’n klein wins uitgewys en dat met ’n aansoek van produsente-lisensies baie rompslomp ondervind word.
Sy versoek om aandag van dié probleem sal na nasionale vlak verwys word.
* The new Liquor Act will have sharper teeth to act against illegal trading.
More
News
|