Pa en dogter saam begrawe
2007-02-15
DIE pa en dogter wat twee weke gelede tydens ’n bloedige familie-twis doodgeskiet is, is Saterdag saam in een graf begrawe.
Mesadie Scharnick en Tom Meyer is twee weke gelede by Endlerstraat 10, Groenheuwel, afgemaai deur Mesadie se man, Carl Scharnick, wat daarna die vuurwapen op homself gerig het.
Carl was ’n polisiekonstabel by die Paarl-Oos polisiestasie.
Meyer se vrou, DA-raadslid Clera Meyer, het die voorval oorleef, maar is ernstig gewond in die nek en buik.
Die Scharnick’s se jongste kind Kaylin (18 maande) het nog op haar ma se skoot gesit toe die skote begin klap, maar is ongedeerd gelaat.
Hul ander twee kinders, Ashwin (9) en Chelsea (5), was tydens die voorval by Carl se ouerhuis in Beethovenlaan.
Emosionele tonele het hulle Saterdag afgespeel in die Nuwe Apostoliese Hervormde Kerk in Paulusstraat, waar die plaaslike gemeenskap soos een mens vir Clera in haar smart ondersteun het.
Later by die Parys-begraafplaas het Clera ineengestort toe haar dogter se doodskis bo-op dié van haar pa, Tom, geplaas is.
Carl is kort voor die Meyer begrafnis in ’n afgesonderde deel van die Parys-begraafplaas ook ter ruste gelê, met slegs ’n handjievol kollegas, familie en vriende wat die verrigtinge bygewoon het.
Clera en die Meyer-familie het alle Drakensteiners bedank vir alle blyke van meegevoel met hul verlies.
* The father and daughter slain in a family killing, have been buried together.
More
News
|