Epilepsie-lyers bring hul kant
2007-02-22
David Joshua
“ONS het nie ’n slang in ons maag nie, en ons is ook nie mal nie,” sê James Abels, een van die werkers by Care Craft in Wellington.
Hy is een van plaaslike epilepsielyers wat werksaam is in die hout-werkswinkel van die sentrum (voorheen bekend as Sanel) wat gehuisves word in die ou Abattoir-gebou in Versaillesstraat.
Bekende Suid-Afrikaners soos Springbok krieketspeler Jonty Rhodes en TV-persoonlikheid Gerry Rantseli is ook epilepsielyers, maar het met doeltreffende behandeling bo hierdie toestand uitgestyg.
Hulle is deel van die sowat een uit elke 100 mense in die bevolking wat deur epilepsie, ook die stille krisis genoem, geraak word.
Care Craft is deel van ’n welsynsorganisasie wat werksgeleenthede skep vir persone met of sonder ’n ongeskiktheidstoelae. Hulle verdien ’n klein weeklikse loon wat hulle by hul toelae kan voeg. Tans is daar werksgeleenthede in houtwerk en verpakking en die verpakkingsafdeling is tans besig om haarkrullers te verpak.
Die houtwerkafdeling vervaardig geskenk- en wynkissies en maak hondehokke en ook ander dierhokke op bestelling vir ’n bekende hardewarewinkel. Die hokke is deel van ’n troeteldiersorg-reeks. Van die produkte is ook te koop aan die publiek.
Assistent-werkswinkelbestuurder Michael Sias sê Care Craft op Wellington is eintlik die sentrum vir epilepsielyers in die Bolandstreek, want hulle bied ’n maandelikse epilepsie-kliniek aan in samewerking met Tygerberg Hospitaal. Daar is vervoer vir mense uit Paarl en Mbekweni.
“’n Neuroloog kom dan uit en sien buite-pasiënte en die werkers, sodat elkeen gekontroleerde medikasie ontvang. Ek gaan haal die werkers se medikasie self by die Wellington kliniek.”
Hy is hoof van vier personeellede en agtien werkers. Die naaste ander soortgelyke sentrum is in Lansdowne.
Groot onkunde heers in sommige gemeenskappe oor epilepsie. Epilepsielyers is nie verstandelik siek of vertraag nie, maar het ’n neurologiese afwyking.
’n Epilepsie-aanval vind plaas wanneer die normale elektriese aktiwiteit in die brein onderbreek word. Die brein se senuweeselle wek ’n impuls op wanneer dit nie moet nie of weier wanneer dit moet.
Die gevolg is ’n skielike, kortstondige en onbeheerbare stortvloed van abnormale elektriese breinaktiwiteit wat sekere dele van die brein of die brein as geheel beïnvloed.
Die sametrekkings wat gesien word as ’n lyer ’n toeval kry, is slegs die fisiese effek van hierdie onstabiele elektriese energie in die brein.
Epilepsie Suid-Afrika het verskillende inisiatiewe van stapel gestuur om veral die knouende en verlammende effek van onkunde hok te slaan.
Veral die beeld dat epilepsielyers bekwame en bydraende mense van die gemeenskap is, met dieselfde regte en vryhede soos alle ander lede in die gemeenskap, geniet voorrang.
Vind meer uit by www.epilepsy.org.za of by die werkswinkel 021-873-1259.
* The CareCraft workshop in Wellington provides employment for epilepsy sufferers.
More
News
|