Bekende Saroniet sterf
2007-02-22
EEN van Saron se bekendste inwoners, Dan September (77), is Saterdag ter ruste gelê.
Hy is Maandagaand ná ’n asma-aanval oorlede.
Oom Dan, soos hy alom bekend was, is op Saron gebore op 21 August 1929.
Hy het nie baie tyd op die skoolbanke deurgebring nie, maar dit het hom nie gekeer om homself te onderskei in sy werk en die gemeenskap nie.
Hy was 17 jaar oud toe hy as ’n voorman by die Elgin-appelfabriek begin werk het.
Later verhuis hy na Kaapstad, waar hy in die paaie-afdeling van die Kaapstad Munisipaliteit werk.
Oom Dan is later aangestel om die straatnaamborde in Distrik Ses te verander.
Daarna het hy vir 17 jaar as hoofnutsman in die ingenieursdepartement gewerk.
Weens gesondheidsredes is hy in 1969, op 39 jaar, ongeskik verklaar en die gesin trek terug Saron toe.
Hier het hy betrokke geraak in landbouprojekte en ook deeltyds motorherstelwerk gedoen vir ’n inkomste.
Oom Dan was een van die kampvegters vir die inwoners se waterregte en het ook as voorsitter van die belastingbetalersvereniging gedien.
Verlede jaar het Crystal Welgemoed en Selwin Adams ’n onderhoud met hom gevoer as deel van Koinonia se Living Legends projek.
Hulle wou by hom weet hoe hy wou hê mense hom moet onthou.
“Ek sal wil hê mense moet my onthou as iemand wat gehelp het om ons kulturele erfenis te beskerm vir toekomstige geslagte,” het hy gesê.
Oom Dan laat sy vrou, Martha, sewe kinders, tien kleinkinders en twee agterkleinkinders na. Die begrafnis was in die VGK Saron.
* A well-known Saron resident has died.
More
News
|