Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Egpaar oorleef mesaanval

Egpaar oorleef mesaanval
 
2007-02-22

Lise Beyers

“AL was dit ’n nagmerrie om wakker te word met ’n mes-swaaiende man voor my, is ons net dankbaar dat die ergste nie gebeur het nie.”

So sê Katrin Steytler nadat sy en haar man, Freddie, ’n gewapende inbraak in hul huis oorleef het.

Die voorval het in die vroeë oggendure verlede Woensdag plaasgevind toe ’n onbekende man toegang tot die Steytlers se huis in Blouvleiweg, Wellington, verkry het terwyl hulle geslaap het.

“Ek het omtrent 03:30 wakker geskrik met ’n man wat voor my bed gestaan het. Al die ligte in die huis het gebrand en ek het deur die blare gedink dat dit my seun is wat vir ons kom sê dat hy dié aand by ons gaan slaap,” vertel Katrien.

“Toe my oë helderder begin sien, het ek besef dat die man geensins my seun is nie.

“Al wat ek geskree het was ‘Here help ons,’ en toe Freddie die aanvaller langs my bed sien staan met die mes wat op my gerig is, het hy dadelik tussen die twee van ons gespring en die paniek-knoppie gedruk.

“Met die geweldige klank van die sirene het die man spore gemaak.”

Die gebeure wat voor die aanval plaasgevind het, het begin ontvou toe die Steytlers die geweldige gemors in hul huis teëgekom het.

Die dief was blykbaar ’n geruime tyd in die huis en het hom eers tuisgemaak voordat hy die yskas byna leeg geeët en gedrink het.

“Die kombuis was vol piesangskille en ’n leë twee liter koeldrankbottel het op die vloer gelê.

“Hierna het hy ons huis letterlik omgekeer op soek na waardevolle besittings,” het Freddie gesê.

“Al die kaste en laaie is uitgegooi soos wat die inbreker die huis deursoek het. Dit het gelyk asof ’n orkaan die plek getref het.

“Maar die heel ergste was die feit dat hy homself voor ons bed ontlas het.”

Daar was orals in die huis hopies goed wat die dief vermoedelik saam met hom wou neem, maar hy het slegs met twee selfone, ’n
kamera, asook Katrien se trou- en verloofring gevlug.

Die polisie en sekuriteitsmaatskappy het binne minute op die toneel aangekom en die omgewing gefynkam, maar tot dusver kon die aanvaller nie opgespoor word nie.

Freddie en Katrien is net te dankbaar dat hulle die aanval oorleef het.

“Met al die gewelddadige misdade wat deesdae plaasvind, kon die ergste ook met ons gebeur het.

“Ons sal nou daarna moet kyk om ons woning veiliger te maak, maar dit gaan baie geld kos. Dis óf dit óf die land verlaat.”



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za