Leeu loop liggies
2007-02-22
Lise Beyers
IN plaas van die leeu-loop doen, moes ’n twee-jarige ramkat-leeu van die Drakenstein Leeupark verlede week lig loop, nadat sy draadjie geknip is.
Shumba is in 2005 as ’n welpie van ses weke na die leeupark gebring nadat die eienaar van die park, Paul Hart, vir hom van ’n gewisse dood gered het uit ’n private dieretuin.
Hierna het Shumba saam met die leeuwyfie Bai grootgeword en dit was die begin van ’n ernstige liefdesverhouding.
Toe dinge ’n bietjie aan die warm kant begin raak het, het Hart besluit dat die tyd ryp is vir ’n vasektomie.
Die Drakenstein-leeupark is ’n skuilplek vir leeus wat in gevangenis gebore is en nie in die natuur vrygelaat kan word nie.
Dit is basies ’n rusoord vir die leeus, want hulle het nooit leer jag nie en sal ook nie deur wilde leeus aanvaar word nie.
Dus, verduidelik Hart, is hy geensins ten gunste van teelprogramme van leeus in aanhouding nie.
“Ons het besluit om eerder die mannetjies te steriliseer, want dit is ’n veel eenvoudiger proses as om die wyfies te opereer.
“Net die mannetjies wat tussen wyfies in ’n kamp is gaan deur hierdie prosedure, wat feitlik pynloos is.
"Öns verkies om die leeus 'n vasektomie te gee, eerder as om hulle te kastreer, want 'n gekastreerde leeu raak 'n swakkeling sonder maanhare."
Shumba is met ’n pylgeweer verdoof, maar dit was ’n gedoente om die besorgde Bai van hom af weg te kry.
Sy is uiteindelik weggelok met ’n stukkie vleis en Hart en sy assistente kon daarin slaag om die stewige mannetjie van 125kg na die operasietafel te dra.
Veearts dr MC Franken het hierna die sensitiewe operasie suksesvol uitgevoer op Shumba.
Alhoewel hy steeds ’n bietjie lomerig was nadat hy na sy kamp teruggeneem is, is hy daar gepaai en gestreel deur sy wederhelf Bai.
Die Drakenstein Leeu-park pronk nou al met 15 leeus wat almal van ’n gewisse dood gered is.
Talle van die reddingspogings was uitgevoer in geweldige moeilike omstandighede.
Bai is self amper dood voordat sy deur Hart gered is. Sy was reeds baie siek en die noodvlug na en van Cameroon, waar sy gered is, was ’n moeilike tog.
’n Groot bekommernis vir Hart is die nuwe wetgewing wat binnekort wildplase sal verbied om leeus aan te hou of te teel vir jagdoeleindes.
“Vir ons is die beoogde wet ’n goeie ding, maar ons is bekommerd omdat daar tans meer as 4000 leeus in Suid-Afrika op plase aangehou word vir jagdoeleindes.
“Daar is geen manier dat hulle vrygelaat kan word, en wat gaan met hulle gebeur wanneer die wet in werking tree?
“In die natuur sal dié leeus deur ander leeus doodgemaak word.”
Maar terwyl dié kwellende saak in die toekoms wag, is daar 15 gelukkige leeus wat vir die res van hul dae in rus en vrede die leeu-loop kan doen in Drakenstein.
* A lion at a local lion park has had a vasectomy to keep the population down.
More
News
|