Etienne Smit oorlede
2007-03-01
BEKENDE Wellingtonner dr Etienne Smit (78) is die naweek tuis aan kanker oorlede.
Dié oud-rektor van die destydse Wellingtonse Onderwyskollege het diep spore in die dorp en provinsie se onderwys, musiek en kultuur getrap.
Sy organisatoriese vermoëns ná sy aanstelling as rektor in 1978, het die administrasie van die kollege meer vaartbelyn gemaak, met stappe soos die totstandkoming van ’n personeelhandleiding.
Dié aanstelling het gevolg op sewe jaar as skoolhoof van Hoërskool DF Malan in Bellville.
Dr Smit was jare lank bestuurslid en op ’n stadium voorsitter van die SA Onderwysersunie, het gedien in die Streekraad vir Kultuursake Wes-Kaap en was betrokke by die totstandkoming van die Eisteddfod Wes-Kaap.
Hy was nou betrokke by die opteken van die geskiedenis van die WOK en OKB. Hy was ook in die moderamen van die Wes-Kaapse Sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika.
In samewerking met ander Vriende van die Wellington Museum het dr Smit drie jaar lank die geskiedenis van Wellington opgeteken, tot die verskyning in 2000 van drie bundels.
Daardie jaar het hy die toekenning as Wellingtonner van die Jaar van die Rapportryers ontvang.
Hy was voorsitter van die Wellington-tak van die Vriende van Afrikaans, voorsitter van die kerkkoor van die NG Moedergemeente en in die bestuur van die Wynland Koorvereniging.
Hy en sy eggenote, Gertie, het in Terra Vino aan Blouvleiweg, Wellington, gewoon. Daar is drie kinders - Ean, Annerie van Eeden en Jonina Myburgh - en ses kleinkinders.
’n Gedenkdiens word vanmiddag om 15:00 in die NG Moederkerk, Wellington, gehou.
* A prominent Wellington resident and former dean of the college of education, Dr Etienne Smit, has died.
More
News
|