Breyten kom huis toe
2007-03-01
DIE daknatmaak van die legendariese Breytenbach-huis op Wellington, nou ’n sentrum vir die kunste, is hierdie week luisterryk gevier.
Al vyf die Breytenbach kinders - broers Jan, Ampie, Breyten en Sebastian en hul suster Rachél - was Maandagaand saam met tot 300 gaste by die opening van die Sentrum in Burgerstraat.
Rugbypersoonlikheid Schalk Burger was seremoniemeester, beskermheer Van Zyl Slabbert en Jan Breytenbach was aan die woord, met Cloete Breytenbach wat die uitstalling van foto’s deur hom, Paul Alberts en Chris Jansen, verwoord het.
Breyten, duidelik gelukkig om op die voorstoep te staan van die huis waar hy grootgeword het, het van sy gedigte voorgelees.
Grevilleas, die dubbelverdiepingwoning wat 150 jaar lank as hotel en studentewoning diens gedoen het, is in die jare 1954 tot 1974 deur die Breytenbachs bewoon en as losieshuis bedryf.
Die woning is toe aan die Wellington Munisipaliteit verkoop en was lank ’n daghospitaal, totdat ’n groepie Wellingtonners in 1998 begin ondersoek instel het om die toe erg verwaarloosde gebou in ’n kultuursentrum te omskep.
Grevilleas is in 2000 deur die munisipaliteit aan die trustees - voorsitter van die trusteeraad prof Ampie Coetzee, Eugenie Wiggins, dr Manie Rust, Johan Conradie, Charlotte Cupido en Michael le Cordeur, oorgedra.
Met skenkings is die gebou gerestoureer en ingerig met lokale vir klasse, uitstallings en ’n kleinteater/konferensiesaal met sitplek vir 50 mense.
’n Administrateur sal vir die sentrum aangestel word, om benewens kunsuitstallings, ’n skryfskool onder leiding van Breyten, kuns en musiekklasse aan te bied.
Die gebou huisves reeds ’n boekwinkel, en ’n koffiekroeg word beplan. Die huidige foto-uitstalling sal tot die einde van die maand te sien wees.
Die sentrum sal weeksdae tussen 10:00 en 16:00 oop wees, en Saterdae tussen 09:00 en 12:00.
* The former Breytenbach home in Wellington has been restored to its former glory, and will be used as a centre for the arts.
More
News
|