VSA en rekenaars roep haar
2007-03-01
“DIS lekker om te kon werk aan iets waarvan almal weet – selfs my ouma ken Internet Explorer!”
So gesels Françoise Louw, ’n oudleerling van Hoër Meisieskool Paarl, wat pas van die VSA teruggekeer het waar sy ’n driemaande internskap by die hoofkantoor van die sagtewarereus Microsoft in Redmond naby Seattle voltooi het.
Françoise, wat verlede jaar haar meestersgraad in Rekenaarwetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch se Departement Wiskundige Wetenskappe verwerf het, is tans ’n dosent in Rekenaarwetenskap vir Matie eerstejaars.
Sy het die ervaring so geniet dat sy in Oktober na die Microsoft Campus gaan terugkeer om as een van sowat 60 000 mense permanent vir minstens die volgende vyf jaar vir Bill Gates te werk.
Françoise was die enigste Suid-Afrikaner – en die tweede Matie ooit - wat verlede jaar gekeur is om ’n internskap by Microsoft te voltooi, nadat die maatskappy vir die eerste keer sedert 9/11 weer begin het met hul doelgerigte wêreldwye werwingsveldtogte om die beste rekenaarkundiges te lok.
Sy was deel van ’n groep van 35 gekeurde rekenaarfundi’s van regoor Suid-Afrika wat in Kaapstad deur ’n intensiewe paneel van vyf rondes onderhoude moes stoei om Microsoft se mense te beïndruk.
Vier van hulle is permanente poste aangebied, maar Françoise wou eers sien hoe dit is, “want dit is darem baie ver” voordat sy haarself tot die Windows mense verbind.
Sy is baie beïndruk met die professionele en warm manier waarop die maatskappy mense wat deel is van die internskapsprogram, behandel.
Microsoft het onder meer ’n beleid dat elke werknemer sover moontlik sy eie kantoor moet hê.
Daar is ook ‘n “Microsoft Shuttle” busdiens wat werknemers tussen die 21 geboue in die korporatiewe kompleks vervoer.
Daarby is koeldranke en ander versnapperings gratis tot die beskikking van alle werknemers om hulle aan die gang te hou – seker dié dat meer as 600 000 blikkies gaskoeldrank, byna 400 000 blikkies sap en meer as 300 000 boksies melk maandeliks deur hulle verbruik word!
“Jy is ’n volwaardige werknemer, en neem deel aan alle vergaderings en besprekings binne jou span,” vertel Françoise van haar wedervaringe.
Gedurende haar drie maande by Microsoft moes sy ’n spesifieke projek voltooi, en haar vordering en mikpunte is gereeld gemeet. ’n Mentor is ook aan haar toegewys.
Françoise was deel van die groot span “testers” wat foute op die Internet Explorer-program, wat voortdurend deur die ontwikkelingspanne verbeter word, probeer vind en regstel.
Françoise sal in Oktober weer by so ’n toetsspan aansluit, en moet dan haar ma dr Illse Louw en haar geliefde perde op Wellington agterlaat.
“Dit is lekker om te weet dat mens ’n bydrae maak tot so ’n groot produk,” vertel Françoise, wat nou die kans kry om die droomwerk van menige jong rekenaarliefhebbers te doen.
En ja, sy het vir Bill Gates gesien op maatskappyfunksies terwyl sy daar was, maar nie die geleentheid gehad om ’n woordjie te spreek met die rykste man in die wêreld nie.
More
News
|