Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Unieke troue in winkelsentrum

Unieke troue in winkelsentrum
 
2007-03-08


MENSE wat op Saterdag 17 Februarie die Tygervallei-sentrum besoek het, was onwetend gaste van ‘n baie spesiale én unieke troue.

Vicky de Haas (29) en Rossouw du Preez (28), ‘n gehoorgestremde paartjie van Wellington, het dié dag trou aan mekaar beloof in die winkelsentrum nadat hulle verlede jaar as die wenners van Tygervallei se Wen-’n-Troue-kompetisie aangewys is.

Verloofde paartjies moes ‘n motivering skryf hoekom hulle verdien om hul hele troue geborg te kry. Die prys was sowat R120 000 werd.

Dit was Rossouw se roerende motiveringsbrief wat die beoordelaars aangegryp het. Hy skryf daarin: “Hoe beskryf ‘n mens die liefdesverhaal van twee dowe mense wat verlief geraak het in ‘n stil wêreld sonder klank?

“Ons weet ons wil saam die wonderlike huwelikspad stap. Ek wil jare later nog steeds vir haar sê: ‘Ek is lief vir jou’.”

Pas terug van hul wittebrood in Knysna, wat deel van die wenpakket was, “gesels” Rossouw, wat lippe kan lees en gedeeltelik doof is, en Vicky, wat doof en stom is, onophoudelik met vinnige handgebare.

Hy doen moeite om haar by die gesprek te betrek en dien as haar tolk.

Volgens Rossouw was dit omtrent ‘n storie om hul motivering vir die kompetisie “in vrede” te skryf.

“Elke keer, net wanneer ek behoorlik op dreef is, sal Vicky by die kamer instap en my in die rede val.”

Rossouw en Vicky was albei in ‘n skool vir dowes, sy in Pretoria en hy in Worcester.

“Ons het mekaar geken en geweet van mekaar, maar nooit die moed gehad om die ekstra treë na mekaar se harte te gee nie,” vertel Rossouw.

Hy het gereeld op rugbytoere Pretoria toe gegaan en elke keer was Vicky daar. Hy’t geweet hy moet haar hart wen, maar die lang afstand tussen hulle het elke keer die oorhand gekry.

Dit was ‘n vriendin van Vicky wat ná skool Kupido gespeel het en gesorg het dat dié twee kontak behou.

Maar liefde oorwin alles, selfs die meer as duisend kilometer tussen Pretoria en Wellington, en die twee raak verloof op Tafelberg.

Hulle was ‘n jaar verloof en besig om geld te spaar vir die troue, wat in Desember in Pretoria sou plaasvind, toe hulle van die kompetisie uitgevind het.

Hulle was in ekstase toe hulle hoor hulle is gekies as die wen-paartjie.

“Dit het beteken dat ons heelwat vroeër kon trou en dit was baie goeie nuus,” sê Rossouw.

Die feit dat hulle by Tygervallei moes trou, het hulle nie afgesit nie.
“Nee wat, dit was spesiaal genoeg,” vertel Rossouw.

Nie eens die inkopiegangers wat van bo af die seremonie kon gadeslaan, het hulle afgeskrik nie.

“Dit het gevoel asof dit net ons was, asof die wêreld stilgestaan het.”
Rossouw vertel dat hy beswaarlik die trane kon keer toe Vicky die paadjie afloop.

“Dit was die mooiste gesig. Ek sal dit nooit vergeet nie.”

Vicky het soos ‘n prinses gelyk - geklee in ‘n trourok spesiaal ontwerp deur die plaaslike ontwerper Wim Botes.

Letterlik alles is geborg, van hul ringe tot die uitnodigingskaartjies, blomme, grimering, hare, foto’s, wyn tot die voorhuwelikse kontrak, bruidskoek en natuurlik die tolk.

Die wittebrood is verby, die “groot dag” ook.

Wat lê nou voor vir dié pasgetroudes?

“Eers wil ons kyk of ons nie vir Vicky werk kan kry nader aan die huis nie. Sy werk tans by 'n bank in Bellville en ek in die Paarl. Dis maar ‘n ver pad werk toe en terug,” sê Rossouw.

Maar afstand het hulle nog nooit afgeskrik nie.

* A deaf couple won a free wedding which was held in the Tyger Valley shopping centre. (Marita Meyer - Tygerburger)



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za