Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Eer vir Wellingtonners

Eer vir Wellingtonners
 
2007-03-15


DRIE Wellingtonners het onlangs tydens ‘n funksie op Wellington die Afrikoon-toekenning ontvang van die ATKV vir hul bydrae tot die Afrikaanse kultuur.

Hulle is prof Johan Anker, assistent-dekaan van Opvoedkunde (CPUT Wellington-kampus), Winnie Rust en dr Manie Rust, wat aldrie genomineer is deur die Wellington-tak van die ATKV.

Anker is vereer vir sy passievolle bydrae en leiding wat betref Afrikaans veral by opvoeders. Anker, voorheen departementshoof van Afrikaans, is lid van die Taalkommissie van die Akademie vir Wetenskap en Kuns (wat die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls opstel) asook van Pansat.

Die Rust-egpaar is vereer vir hul formidabele kulturele bydrae tot die dorp en sy inwoners. In 2005 was hulle saam die Wellingtonners van die jaar!

Dr Manie Rust was stigterslid van die Wellington Rapportryers asook van die Wellingtonse Kunstevereniging wat as oorkoepelende en koördinerende komitee vir die Drama-, Beeldende Kunste-, Fotografie- en Musiekvereniging opgetree en het gesorg vir ‘n oplewing van die onderskeie kunste in Wellington.

Die Dietman-klavierkompetisie (later genoem die Hennie Joubert-klavierkompetisie) het onder meer hieruit ontwikkel.

Hy was voorsitter van die Trusteeraad van die Wellingtonmuseum gedurende die tydperk 1988 tot 2004 en was ‘n baanbreker vir bewaring in Wellington. Deur sy toedoen is die Wellingtonse Bewaringsvereniging, die voorloper van die Estetiese Komitee gestig wat ‘n groot deel van die ouer dorp in 1986 tot ‘n sensitiewe
bewaringsgebied verklaar het.

Hy is ook lid van die Trusteeraad van die Breytenbach Sentrum. Hulle is saam betrokke by die Vriende vir Afrikaans.

Winnie was stigterslid van die Wellingtonse Besprekingskring asook die die Afrikaanse Leeskring en het ‘n jarelange verbintenis met die Wellingtonmuseum. Vir die museum het sy onder meer ‘n publikasie saamgestel oor die bergverhale, veral van die Bainskloof wat immer gewild is by besoekers aan die museum.

Van 1998 tot 1999 was Winnie betrokke by ‘n groot navorsingsprojek van die museum oor die geskiedenis van Wellington en die distrik.

Sy is ‘n talentvolle skrywer. Immers loop die skrywersbloed dik in die Van der Merwe-familie: Boerneef was tog haar pa se broer! Benewens dagstukkies vir tiener- en vrouedagboeke skryf sy vir tydskrifte en die Paarl Post.

Die optekening van klein verhale van Wellington is juis een van haar besondere belangstellings – in hierdie verband was sy vir Charlotte Cupido behulpsaam om laasgenoemde se herinneringe Vra Na Die Ou Paaie op te teken en te laat publiseer.

Die Litera-prys vir debuterende skrywers is twee keer aan Winnie toegeken - vir Queen Elizabeth in 1999 en Trek aan jou klere, Boeta in 2001.

Die kroon op haar skryfwerk tot dusver is haar historiese roman “Martha - ‘n verhaal oor Martha Solomons, Countess of Stamford” wat in 2004 verskyn het en een van slegs twee finaliste was vir Rapport se Jan Rabie-prys.

Die egpaar het ‘n besondere belangstelling in die plaaslike klopse en ‘n trofee geskenk vir die beste tradisionele liedjie of moppie.

* Three Wellington residents have been honoured for their cultural activities.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za