Geskiedeniskongres
2007-03-29
DIE SA Vereniging vir Kultuurgeskiedenis bied môre en Saterdag ‘n kongres aan by die nuwe Breytenbach Sentrum op Wellington getitel Oorgangstye in die SA geskiedenis.
Op die tweede dag word ook die kultuurgeskiedenis van die groter Wellington-area in oënskou geneem.
Die Vereniging hou jaarliks sulke byeenkomste, meestal in die platteland om die betrokke dorp se geskiedenis te bespreek met lesings daaroor, aangebied deur akademici, terwyl plaaslike mense ook genooi word om ook insette te lewer.
Registrasie begin om 08:15 Vrydagoggend en die dag se verrigtinge word afgesluit met ’n aandfunksie in die Koffiehuis ná ’n uitstappie na Riana Scheepers se plaas De Compagnie.
Die Saterdag se verrigtinge sluit af met ’n vrugte- en wynproe tot ongeveer 16:00.
Onderwerpe wat bespreek word sluit in lesings oor militêre geskiedenis deur dosente van die Militêre Akademie van Saldanha, Kaaps-Hollandse argitektuur deur die gevierde skrywer dr Hans Fransen, Victoriaanse argitektuur deur die toonaangewende akademikus dr Matilda Burden van Stellenbosch, Wellingtonse geskiedenis deur plaaslike kenner dr Jurie Joubert van die Bolandse Onderwyskollege, en etlike ander.
Almal is welkom. Africana soos historiese foto’s van die omgewing (uit die Kaapse Argief) en boekery sal te koop aangebied word. Konferensiekostes beloop R280 (R300 vir nie-lede). Betaling kan by registrasie gedoen word.
Vir navrae, kontak B Ekermans by tel 021-976-5798, 082-921-0620 of ekermans@samedical.co.za.
More
News
|