Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Pad na genesing

Pad na genesing
 
2007-03-29


OP die hoek van Albert- en Burgstraat, bokant die geskiedkundige opstal Twist Niet op Wellington, is Alexa (Fuff) Kirsten besig om ’n sementmuur in ’n kunswerk te omskep.

Die binnekant van die muur is ’n mosaïek van kleur soos wat sy stukke glas en spieël, krale en foto’s in ’n bont kaleidoskoop omskep wat ook simboliese en terapeutiese waarde het.

Fuff is twee jaar gelede met ernstige letsels gelaat toe sy reageer het op die noodkrete van ’n buurvrou, Lisbé Smuts-Smith, in lewe lektrise aan die Departement van Linguistiek en Afrika-tale aan die Universiteit van Kaapstad.

Lisbé is noodlottig aangerand. Alexa het die noodkrete gehoor, die huis binnegegaan en is eweneens deur die moordenaar aangerand.

Sy het vir dood bly lê voordat hulp opgedaag het.

Alexa se herstel was ’n langsame en pynlike proses. Sy beweeg steeds met moeite en het nog nie gevoel aan die regterkant van haar liggaam nie.

Sy het onlangs ’n ernstige emosionele terugslag gehad deurdat ’n geliefde suster in Mosambiek verongeluk het. Teen die herinneringsmuur is ’n foto van die suster aangebring. Alexa het dit met gepaste simboliese patrone omraam.

Alexa sê die werk teen die muur is vir haar geweldig terapeuties en is deel van ’n proses van heling.

In die muur ingebou is ook skerwe van ’n pot uit Twist Niet, die huis waar sy aangeval is.

Lisbé se dogter Saskia het ook meegehelp aan mosaïekpatrone teen die herinneringsmuur.

As deel van die Christusfees word ’n eenmanvertoning gegrond op Fuff se verhaal in die Presbiteriaanse Kerk op Wellington (langs die stadsaal) opgevoer Woensdagaand om 19:30. Die vertolking “‘n Venster vol Son” is deur Marianne Kitching.

* Dit is vanjaar die sewende agtereenvolgende Christusfees wat die kerke en die gemeenskap van Wellington met Paastyd vier.

Die program begin môre met ‘n menseketting om 08:00 in die strate waar daar skole is.

Vanaand om 19:30 is daar ‘n fakkelloop en ook jeugdienste vir die laerskole (Hugenote Kollegesaal) en hoërskole (NG Kerksaal).

Op Donderdag 5 April word daar voedselpakkies uitgedeel by die NG Noord-gemeente en St Albans. Vrydagaand 6 April om 19:00 is daar ‘n Paasspele by VGK Wellington.

Sondag 8 April om 07:00 word ‘n Opstandingsbiduur in die Champagne-begraafplaas gehou.

Die aand om 19:00 vind ‘n feesdiens op Boland-stadion plaas, voorafgegaan deur voorsang (17:00) en gaskunstenaar Neil Buchner (18:00).

Die afsluiting is die aand om 20:00 in die Flappie Lochner-saal.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za