Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Charlie gaan koshuis toe

Charlie gaan koshuis toe
 
2007-03-29


CHARLIE het toe nie koshuisgeld betaal nie, maar hy het verlede naweek baie geleer op Stellenbosch. Die belangrikste? As ’n klomp studente in jou krokodilhok klouter, maak dat jy onder die water kom.

Charlie, die fris tweejarige krokodil, het verlede Vrydagaand rustig gesluimer op die rand van ’n poel by die Le Bonheur krokodilplaas in Simondium.

In sy ore was die musiek waarop ’n Matie van die Paarl en haar Stellenbosse vriende haar 21ste verjaardag in die plaasrestaurant gevier het.

Dit was laatnag en die manne was sterk van die gekuier toe daar besluit is Dagbreek koshuis het ’n nuwe troeteldier nodig.

Sterk genoeg vir die 300kg van Big Joe was hulle beslis nie. Ook maar goed, want op 25 is dié meneer lank nie meer lus vir studentepret nie.

Toe val die keuse op Charlie, op 20kg wel hanteerbaar, maar beslis ook nie kinderspeletjies nie.

Behalwe dat dit die nag koud was, en Charlie nie so rats sou wees soos op ’n sonskyndag nie, is dit nie duidelik hoe die mannetjie met die vlymskerp tande en die geniepsige stert in ’n student se motor gekom het nie.

Die nuus wat wel die Maandagoggend die krokodilplaas met ’n skok getref het, was ’n telefoonoproep van ’n angstige meisie.

“Daar’s een van julle krokodille weg. En hy is in ’n badkamer in Dagbreek!”

Dis nie maklik om sommer Charlie se 999 maters te tel om te sien of een van hulle die hasepad gekies het nie (hetsy op eie stoom of dan met ’n bietjie hulp).

Skaars was dié nuus oorgedra, of die telefoon lui weer.
Hierdie keer was dit Carl Brown van Jonkershoek Natuurreservaat.

“Ons het ’n krokodil in die Eersterivier gevang. Kan ons hom vir julle bring?”

Kadys Prins het die krokodil mooi bekyk en bevoel en met ’n kennersoog kon sien: “Dis een van ons s’n. Die krokodil het nie lank in die rivier gewoon nie, daarvoor is sy vel te sonder skuurmerke.”

Dit het nie veel kopkrap gekos om een en een (krokodil en student) bymekaar te sit nie en die storie het so stuk-stuk uitgekom.

Charlie was wel ’n rariteit in Dagbreek, maar teen Sondag het die wêreld te warm geword en het die Eersterivier die beste oplossing gebied.

Nou is Charlie terug op Le Bonheur. Dit was ’n lekker naweek-uitstappie, nogal leersaam daar op Stellenbosch, maar hy voel darem tog meer tuis tussen sy eie soort, dankie.

* A crocodile, stolen in a student prank from a crocodile farm in Simondium, has been recaptured.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za