Bekende stadsraadslid sterf skielik
2007-04-04
‘n BEKENDE raadslid en gemeenskapsleier van die Paarl, Sienah Saaiman, is Saterdagoggend skielik op 42-jarige ouderdom oorlede.
Volgens familie het hulle haar die oggend om 08:00 gaan wakker maak vir ‘n projek waarby sy betrokke was.
Toe hulle in die kamer kom, het hulle gesien daar is fout en het die dokter en ambulans ontbied.
Die dokter het bevestig dat sy oorlede is. Sy het vermoedelik beswyk aan 'n beroerte.
Saaiman het op 1 Mei 1996 proporsionele raadslid geword vir die ANC in Drakenstein.
In Oktober 2005 wen sy die tussenverkiesing in Wyk 27 (destyds wyk 13), ná die afsterwe van raadslid Joan Pegram (DA). In April verlede jaar is sy as lid van die uitvoerende burgemeesterskomitee verkies, en het die portefeulje vir maatskaplike en landelike ontwikkeling hanteer.
Dit was reg in haar kraal, want as gemeenskapsleier was sy jare lank betrokke by die Paarl Civics.
Sienah het ‘n pragtige sangstem gehad en het ‘n sanggroep gehad, die Faith Mission Singers.
Sy laat haar moeder, drie tantes en drie seuns (Truth, Shaun en Maxwell) agter.
Die begrafnis sal op Saterdag 14 April plaasvind en meer besonderhede sal later bekend gemaak word.
Die Speaker, Sikhumbuzo Mgajo, en die burgemeester, Charmaine Manuel, het hul meegevoel met raadslid Saaiman se naasbestaandes uitgespreek namens die Raad en gesê haar heengaan is ‘n groot verlies vir die hele gemeenskap.
* Die vrou van raadslid Hannes Smit (DA) van Saron, Anelize (53), is verlede week oorlede. Sy het aan lewerkanker gely. Die egpaar het twee dogters en ‘n seun.
Die begrafnis was Saterdag in die Calvynse Kerk op Saron. Die stadsraad het verlede week by die raadsvergadering ‘n minuut se stilte gehou ter nagedagtenis aan haar.
* Verlede Donderdag is ‘n gedenkdiens by die Paarl-Oos behuisingskantoor gehou vir Clive Cupido (behuisingsbestuurder: administrasie), wat verlede week oorlede is.
* ANC town councillor Sienah Saaiman has died of natural causes.
More
News
|