Sakkerollers vasgevat
2005-05-19
’n POLISIEMAN is nooit van diens af nie, soos ’n sakkeroller Saterdagoggend tot sy spyt uitgevind het in die Paarl.
Supt Errol Merkeur was buite ’n bank in Fabriekstraat toe hy hoor hoe mense skree “Vang hom, vang hom”.
Hy het gesien hoe ’n jong man met ’n beursie weghardloop en hom agternagesit.
Terselfdertyd het supt William Reid voor ’n bank aan die teenoorgestelde kant van Jan Phillipsplein gestaan toe hy die konsternasie sien.
Ook hy was nie aan diens nie, maar soos supt Merkeur sê: “Die sakkerollers kan maar weet, ons is 24 uur aan diens.”
Reid was kort op sy kollega se hakke toe Merkeur die 21-jarige booswig oor die Wamakersplein parkeerarea inhaal, en teen die publieke toiletgebou aangekeer het.
Die verdagte is vermoedelik lid van ’n groep jeugdiges wat met ’n nuwe slenter vorendag gekom het.
Volgens Merkeur druk hulle stukkies koerantpapier opmekaar en sit dit met ’n R20 noot weerskante, in ’n banksakkie.
Wanneer ’n kliënt uit die bank kom met ’n banksak of vol beursie, laat val hulle die banksakkie voor sy voete. Die teiken buk of kyk af, dat die sakkeroller kans kry om sy beursie te gryp.
Maar hierdie keer,met twee ervare polisiemanne op sy hakke, het die dief nie ver gekom nie.
More
News
|