Waar daar 'n rokie trek...
2007-04-19
’n POLISIEBEAMPTE het verlede naweek uitgevind dat waar daar ’n rokie trek, brand daar ’n verdagte vuurtjie.
Konstabel Charlton Ross en ’n reservis was die Donderdagoggend om 04:40 besig met ’n roetine-patrollie in Oosboschstraat.
Hy het in die oggendskemer opgelet dat daar rook onder die spoorwegbrug uitborrel en het nadere ondersoek gaan instel. Ross en die reservis is onder die brug in waar hulle drie mans om ’n vuur gewaar het.
Die mans het dadelik die pad gevat toe hulle die polisie raaksien. Die ratse Ross het hulle agternagesit en daarin geslaag om een van die mans plat te duik.
Hulle is terug na die vuur en daar het Ross vasgestel dat die mans besig was om telefoonkabels te brand om as skroot te verkoop.
Adrian Pedro is in hegtenis geneem en daar word gesoek na die ander twee verdagtes.
Hierdie kabels word deur kabeldiewe gebrand om ontslae te raak van die plastiekomhulsel. Daarna word die draad platgekap met ’n byl of hamer om dit sodoende onherkenbaar te probeer maak.
Dit word dan onwettig aan skroothandelaars verkoop. Die polisie ondersoek die moontlikheid dat die draad deel vorm van die 150 meter Telkom foondraad wat oor die Paasnaweek in die Perdeberg-omgewing gesteel is.
Vier telefoonpale is ook onlangs in die vroeë oggendure naby Rose Garden-plaas afgesaag en die draad gesteel.
* Phone cable thieves have been collared.
More
News
|