Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Jaery sal nie stop nie

Jaery sal nie stop nie
 
2007-04-19


“Julle kan ons sport hiér probeer doodslaan, maar dit sal net iewerste anders vlamvat.”

So sê ’n toegewyde sneljaer.

Hy verdedig die jaery wat die afgelope paar maande vlamgevat het op die nuwe Paryspad en tot slapelose nagte gelei het vir inwoners van dié gebied.

Volgens Jacques (sy van word om veiligheidsredes verswyg) moet hulle juis laataand resies jaag wanneer die paaie stil is, want daar is geen ander alternatief vir hulle nie.

Hierdie nuwe pad bied vir hulle ’n perfekte baan om hul sport te beoefen, met ’n gladde dubbelbaan-oppervlak sowel as beligting. Om dit nog meer gerieflik te maak, bestaan die ou Paryspad nog en dit is ’n veilige area vir die talle toeskouers wat na die sport kom kyk.

Jacques maak ’n bestaan uit die herbou van motors vir ‘drag-racers’.

“Die manne is baie ernstig en passievol oor hul motors. Hulle ry van ’n Toyota tot ’n Mercedes of BMW.

“Hierdie modifikasies kan jou tot R50 000 uit die sak jaag, maar daar is van die geesdriftiges wat tot R200 000 sal spandeer aan hul vuurwaens.

“Juis weens hierdie modifikasies is ons voertuie baie veiliger as enige ander motor op die pad.”

Jacques vertel dat daar ’n elektriese atmosfeer in die lug heers wanneer die jaers en toeskouers bymekaar kom.

“Ons is soos een groot gesin wat hand vat en net ons self wil geniet.

Almal is hier om deel te neem aan die opwinding wat vlamvat wanneer die brul van die enjins begin.

“Ongeag wat mense beweer, word die bymekaarkomste goed beheer en geen drank word gebruik nie. Daar is ook geen dobbelary betrokke nie en dit is slegs die manne se trots wat op die spel is.

“Ons het selfs ‘marshals’ wat beheer uitoefen oor die skare en ook op die uitkyk is vir aankomende voertuie. Veiligheid is ’n prioriteit.

“Op die Paryspad jaag slegs twee karre op ’n slag teen mekaar, ’n afstand van 760 meter.

“Die motors bereik ’n snelheid van ongeveer 200 km per uur en dan is die wedren verby. Dit is onwaar dat ons vanaf die snelweg tot om Jan van Riebeeckrylaan jaag en terug.”

Volgens Jacques kan die hele histerie oor dié jaery opgelos word as die owerhede na hul versoeke sal luister.

“Ons wil gesprekke voer oor die moontlikheid dat ons sport wettig gemaak word, sowel as beheer word.

“Hoekom kan fietstoere en pretlope in die strate van die Paarl gehou word wat deur die verkeersowerhede beheer is, maar daar is geen plek vir ons nie. Ons soek net ’n geleentheid om ons sport te geniet."

* A passionate Paarl street racer is adamant that the men will continue racing, come what may.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za