Vyftig goue jare
2007-04-25
VRYDAG vier Sylvia en Michael le Cordeur vyftig goue huweliksjare, maar dit was nie altyd maklike jare nie.
As sy terugkyk oor haar lewe van 70 jaar, onthou Sylvia die baie hartseer en teleurstellings wat sy moes te bowe kom om die toekoms vir haar kinders te kan verseker.
“Ek en my man, Michael, kom albei uit gebroke huise,” vertel sy in hulle gesellige aftreehuisie by Abbeyfield op Wellington.
Michael het as kind by dr Manie Rust groot-geword en ná hulle troue was hy Sylvia se steunpilaar.
Hy het jare by ’n skoenfabriek gewerk, waar hy afgetree het as voorman en ontwerper.
Sylvia het na vele onderhandelings verlof gekry om naweke ’n vlooi-mark in die Victoriapark in Wellington te bedryf.
“Saam het ons later as straatverkopers leerartikels verkoop,” onthou sy.
Sy vertel hoe streng die Munisipaliteit was dat daar geen rommel of ongerymdhede by haar vlooimark mag wees nie. En hierop was sy baie gesteld.
“Maar kyk hoe lyk dit vandag in die straat voor Victoriapark,” sê sy van die entrepreneurs wat nou daar handel dryf.
Aangesien daar nie vir haar die geleentheid was om haarself professioneel te bekwaam nie, was sy vasberade dat dieselfde lot nie haar kinders sou tref nie.
“Die kinders wou net leer,” sê sy en vertel hoe hulle met ’n klein leerfabriekie by die huis begin het.
“Michael het elke oggend werk uitgesit en dan het ek toesig gehou oor die meisies.”
Vandag kan hulle met trots spog dat hulle ses kinders almal ’n geleerdheid het en prestasies behaal het.
Die oudste, André, is ’n myningenieur, Michael junior het ’n doktorsgraad in die opvoedkunde en is kringbestuurder van onderwys, Edwinah was Mejuffrou Rapport, William is ’n adjunk-direkteur in die staatsdiens, Jessica is ’n areabestuurder vir ’n bank en Clarence is ’n prokureur.
Michael senior skryf dit toe aan ’n ferm hand: “’n Mens kan nie té streng wees met jou kinders nie.” Dan voeg hy by dat hy jammer is dat vandag se jeug met soveel versoekings te kam- pe het.
Die egpaar het ook 16 kleinkinders, waarvan vyf reeds op universiteit is.
Nog een is vanjaar junior adjunk-burgemeester van Wellington en ’n lid van die Cravenweek-rugbyspan.
Dié naweek hou die kinders ’n partytjie om hul huweliksdag te herdenk.
“En dit is nou ook tyd dat Sylvia tot ruste kom,” meen Michael. Of dit gaan gebeur, is egter te betwyfel.
Sy het weliswaar die mark gelos, maar deesdae is sy betrokke by bejaardesorg, sy is vlytig besig met haar inskrywing vir Sanlam se ‘Mooi goed vir Kleingoed’ en sy neem ook elke jaar aan die Goue Spele deel.
More
News
|